Beeld

Ma verklaar oorlog teen prostitusie

Deur: Jana van der Merwe 2012-06-06 10:46
’n Bloemfonteinse ma het oorlog verklaar teen die prostitute wat in Noordhoek hulself helder oordag selfs aan skoolseuns ontbloot én teen die mans wat dié straatvroue so graag oplaai.

Gewapen met ’n notaboek en kamera skryf sy nou die registrasienommers af van die prostitute se klante en neem sy foto’s. Dié mans se vrouens en die owerheid gaan dié bewysstukke kry, sê sy.

Onder dié klante is sakemanne, akademici, blouboordjiewerkers en selfs boere wat ná die gereelde nabygeleë veiling ’n draai by die prostitute maak. “Ek dink hulle (die prostitute) maak oor middagete die meeste geld.”

Sy sê party van dié meisies hoort nog op skool.

Die prostitute, van hulle bloedjonk, staan van vroegoggend af waar Roderickstraat by Andries Pretoriusstraat aansluit.

Van hulle is skraps geklee en selfs sonder onderklere.

Wanneer ouers hul kinders skool toe neem, moet jong kinders sien hoe die vroue hulle aan verbygaande motors ontbloot, sê die ontstoke ma wat op die oorlogspad is.

Die polisie erken die probleem, maar sê sy hande is afgekap.

Bloemfontein het nie bykomende munisipale wetgewing wat prostitusie verbied nie, sê lt. kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder.

In Bloemfontein moet mans wat prostitute vir seks betaal, letterlik in die middel van die geldruiltransaksie met hul broeke op hul knieë gevang word voordat hulle in hegtenis geneem kan word.

Beamptes van die Navalsig-polisiekantoor het al die prostitute verjaag, maar hulle keer summier terug.

Inwoners hier sê hulle weet nie hoe hulle hul kinders moet beskerm met dié geweldige probleem op hul voorstoep nie.

Gister en eergister oor die middaguur het verskeie manne hier gedraai. Een het sommer met die maatskappy-bakkie ’n jong vrou met vals lokke opgelaai en in die rigting van die hoofweg gery.

Twee ma’s, wat daagliks hul kinders by die Laerskool Bloemfontein gaan aflaai en gaan haal, sê dit kan nie langer so aangaan nie.

Een van hulle sê ’n prostituut het haar borste onlangs aan haar tienjarige seun ontbloot. “Ek het by die stopstraat hier gestop. Terwyl ek gekyk het vir verkeer, het een van die vroue vir my kind ge-flash deur haar top op te lig. My kind het net gesê: ‘Kyk, Ma, daardie vrou wys my haar t**t**s!’”

Sy sê wat die ergste is, is dat hulle juis hier in ’n singel ’n huis gekoop het omdat dit veilig is en kinders nog hier kan fietsry. - Volksblad

«Terug