Beeld

Man ‘kry 2de lewe’ ná kopskoot in rooftog

Deur: Susan Cilliers 2012-12-23 21:36
Rustenburg. – ’n Man wat Vrydag tydens ’n rooftog deur die kop geskiet is, het gister self hier vertel hoe hy dit wonderbaarlik oorleef het.

“Dis ’n wonderwerk – ek het ’n tweede lewe gekry,” het Ben Welthagen (60) in die Life Peglerae-hospitaal in Rustenburg gesê.

“Die Here het die koeël gelei.”

Welthagen is omstreeks 08:00 Vrydag in ’n rooftog by ’n plaaswinkel naby Mooinooi, 42 km buite Rustenburg, geskiet.

Die koeël is deur sy regteroogbank, skuins na onder deur sy sinuskanale, linkerbo- en onderkaak en onder sy linkeroor by sy nek uit.

Geen slagaar of enige deel van sy brein is getref nie.

Theuns van Staden, Welthagen se swaer, het boonop op pad hospitaal toe ’n pap wiel gekry. ’n Weldoener het by hulle stilgehou en Welthagen hospitaal toe geneem.

Welthagen verhuur die winkel waar hy geskiet is aan Hassan Hoessein, ’n Bangladesjer.

Die Welthagen-egpaar het gister vertel hulle was Vrydagoggend in hul huis langs die winkel toe ’n werknemer uithardloop en om hulp roep.

Welthagen het nader gestap. “Een rower het my met ’n mes aangeval. Toe druk ’n ander sy pistool teen my bril en skiet.

“Dit het soos ’n ontploffing gevoel, asof ’n elektriese skok deur my gaan. Aanvanklik was daar geen pyn nie. Ek het net gehoop niks belangriks is getref nie. Die rower het die pistool agter in sy broek gedruk en weggeloop.”

Welthagen se vrou, Kotie, het vertel haar man het ná die skoot bly staan en aan haar gesê hy is in die gesig geskiet.

“Toe sien ek net bloed. Dit was ’n erge ondervinding.”

Welthagen het op pad hospitaal toe “nie een oomblik” gedink hy gaan dit nie maak nie. “Ek het baie gebloei, maar kon voel my asemhaling is normaal en was by my volle positiewe.”

Stukkies glas van sy bril is Vrydagmiddag uit sy regteroog verwyder en ’n skeur in die oogbal is herstel, maar dis nog nie seker hoe erg die skade is nie.

Sy kake is met draad geheg en verskeie tande het in die slag gebly.

Een van die vyf rowers is intussen vasgetrek danksy inligting wat die polisie ontvang het en nog arrestasies word binnekort verwag.”
 
«Terug