‘Hy het haar soos ’n koei geslag.”
So het die tante van ’n 31-jarige man van Nellmapius, in die ooste van Pretoria, gister beskryf hoe hy sy tweejarige dogtertjie doodgesteek het.
Karabo Ramotsela het hom ná die moord opgehang.
Sy tante, Anna, wat nie haar van wou verstrek nie, het gesê die “jong man vir wie ek so lief was” het sy dogter, Koketso Mathedimosa, so baie kere met die mes gesteek dat dit gelyk het asof hy haar geslag het.
“My oë is vol trane.”
Ramotsela het eergisteraand nadat hy en sy vriendin vroeër vandeesweek ’n woordewisseling gehad het, haar ingewag. Toe sy tuis kom, het hy haar in die hand geskiet en hy is met hul twee-jarige dogtertjie daar weg.
“Die kind se ma het na die Mamelodi-hospitaal gegaan,” het kapt. Jan Sepato, polisiewoordvoerder, gesê.
Ramotsela het saam met Koketso by ’n vriend se huis gaan oorslaap.
“Die pa en sy dogtertjie was in een kamer en die vriend in ’n ander een,” het Sepato gesê.
Toe Ramotsela se vriend gisteroggend die deur oopmaak, het hy dood gehang. Dit is nie bekend waaraan of waarmee hy hom gehang het nie.
Sy dogtertjie het dood op die vloer gelê met ’n mes op haar lyfie.
“Sy het baie steekwonde gehad,” het Sepato gesê.
Volgens Sepato was die vriend geskok en hy het dadelik familie en vriende gebel.
Ramotsela het ’n selfmoordbrief gelos waarin hy sy tante vra om na Koketso om te sien. “Dit is nou jou las,” het hy geskryf.