Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Mangaung 2012: Motor maak die man

Deur: Pieter Steyn 2012-12-18 23:46
Lank, lenig en bonkig, sexy en dúúr.

Dis die beste beskry-wing van die honderde luukse voertuie wat vandeesweek Bloemfontein se strate vol ry.

Benewens die BMW’s, Land Rovers, Audi’s en Mercedes- Benze waarin ministers, premiers en LUR’e rondgery word, is ANC-gaste en -afgevaardigdes hier met ultraduur-motors soos Maserati’s, Lamborghini’s en Porsches.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het genadiglik nie hael of ’n ander natuurramp vir die week voorspel nie.

Beeld het binne ’n uur rygoed gesien met ’n gesamentlike waarde van ongeveer R27 miljoen.

Die motor wat die meeste aandag getrek het, is waarskynlik ’n Mercedes-Benz SLS 65AMG. Hy kan jou tot R2,8 miljoen uit die sak jaag.

Gister by die BBP-parkeerplek, langs die reuse-tent waar die ANC-leierskapskonferensie gehou word, was die Audi Q7, Mercedes-Benz E-klas en ML, BMW X5 en Land Rover Discovery die gewildste onder hoë politici.

Ace Magashule, Vrystaatse premier, se Mercedes-Benz S600 V12 was die duurste vuurwa onder die ANC-hoëlui se voertuie.

LUR’e en ministers se keuse val meestal op Mercedes-Benz E350’s, Land Rover Discoverys en Audi Q7’s.

Die prys van ’n Audi Q7 begin net onder R700 000.

Pres. Jacob Zuma se “nederige” BMW X5 kos net ­minder as R900 000, sonder

die koste van ekstra bevei­liging van ’n presidents-motor.

Interessante nommerplate is ook volop. ’n Afgevaardigde van Noordwes se Volkswagen ­Scirocco se nommerplaat lui “SaveANC NW”.

’n Man met ’n spoggerige Jaguar XF se nommerplaat is “Lowflying MP”.



Só ry die comrades. ’n Afgevaardigde met ’n rooi baret is te sien in sy BMW Z4-afslaankap met pres. Jacob Zuma se gesig op die deur. Zuma is ook ’n BMW-man.
Foto: Felix Dlangamandla


’n PIKSWART Jaguar XJ. Dis ’n droomkar vir die ANC-rykes. Die reeks kos tussen R1,2 miljoen en R2,2 miljoen. Foto: Leon Sadiki


’n ANC-tenk. Mercedes se ML-vuurwaens is van die gewildste rygoed vir die ANC-rykes. Dié rygoed kos tot R2,3 miljoen vir die AMG-model .Foto: Leon Sadiki

«Terug