Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Mangel-operasie eis 2-jarige seun

Deur: Hilda Fourie 2012-05-26 00:01
Die polisie ondersoek die dood van ’n tweejarige seun ná ’n mangeloperasie in ’n hospitaal in Vereeniging.

Jaundré Bennett (2) is op 4 Mei in die Vereeniging Medi­clinic dood nadat hy die vorige dag ’n mangeloperasie ondergaan het.

“Ons het ’n lewenslustige seuntjie daarin gestuur en ’n lykie teruggekry,” het Geraldine Bennett (25), Jaundré se ma, gesê. “Tot vandag toe kan niemand vir ons sê waaraan Jaundré dood is nie.”

Op Jaundré se doodsertifikaat staan die oorsaak word ondersoek.

Konst. Tikoane Sonopo, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek.

“Die polisie ondersoek die moontlikheid dat daar nalatigheid was. Soos wat die ondersoek vorder, kan die klagte verander,” het Sonopo gesê.

Bennett het gesê Jaundré het in die verlede kort-kort mangelontsteking gehad. Hulle is aangeraai om dié winter die mangels te laat verwyder.

Dr. Pite Bresler, Jaundré se chirurg, het gesê Jaundré is op Donderdag 3 Mei 13:00 teater toe geneem.

Volgens Bresler is ’n suksesvolle mangeloperasie uitgevoer.

“Jaundré is ontkoppel van die narkosemasjien en oorgeplaas op sy bedjie. Tot in dié stadium het ek geen fout waargeneem nie,” het Bresler gesê.

“Die narkotiseur en die suster het Jaundré herstelkamer toe geneem waar hy wakker gemaak sou word. In die herstelkamer is komplikasies waargeneem nog voordat hy wakker was.

“Dit is vir my heeltemal onduidelik waar die probleem ingetree het. Vrae oor of daar ’n suurstoftekort was, moet deur die narkotiseur beantwoord word. Self het ek geen probleem agtergekom nie.”

Luidens mediese verslae is Jaundré 13:16 in die herstelkamer ontvang. Hy het nie asemgehaal of ’n pols gehad nie.

Nadat onder andere Bresler en dr. Deon Kotzé, die narkotiseur, Jaundré probeer bybring het, is hy na die pediatriese waakeenheid oorgeplaas.

“Hoe meer ons vra wat is fout, hoe meer sê hulle (die dokters en verpleegpersoneel) vir ons hulle weet nie,” het Heinrich gesê. Hy het gesê dr. Mathew Tabiri, Jaundré se pediater, het kort nadat Jaundré in die waakeenheid opgeneem is, aan hulle gesê hul seun het erge breinskade opgedoen en is breindood.

Geen toetse om te bepaal of Jaundré breindood is, is in dié stadium al gedoen nie.

Kotzé het Jaundré die volgende oggend besoek.

“Dr. Kotzé het vir my gesê hy is my nie ’n verduideliking verskuldig nie en hy gaan nie jammer sê nie, maar my kind lyk sleg,” het Heinrich gesê.

Volgens Geraldine het Tabiri hulle ’n vorm gegee om te teken vir medisyne wat aan Jaundré gegee moes word.

“Drie minute nadat my kind gespuit is, het sy hart gaan staan. Dr. Tabiri was nie eens twee minute met hom besig nie, toe kom hy uitgeloop,” het Geraldine gesê. “Ek het die dokter gevra om asseblief my kind te help. Hy het net sy skouers opgetrek en gesê dit is verby.”

Selka-Ann Badenhorst, kliëntediensbestuurder van die Vereeniging Mediclinic, het gesê die hospitaal doen ’n interne ondersoek.

Kotzé en Tabiri het nie op navrae gereageer nie.


Die trane lê nog vlak in Geraldine Bennett se oë terwyl sy praat oor haar seun wat dood is ná ’n mangeloperasie.
Foto: Cornél van Heerden


«Terug