Lt.genl. Richard Mdluli mag weer teruggaan werk toe.
Regter Edwin Molahlehi het volgens City Press se webwerf gister in die Johannesburgse arbeidshof beslis dat Mdluli se tweede skorsing dadelik opgehef word en dat die polisie se voormalige hoof van misdaadintelligensie onmiddellik mag teruggaan werk toe.
Die regspan vir lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, waarnemende polisiehoof, het nie gister Mdluli se aansoek om sy skorsing te laat ophef teengestaan nie.
Dít glo omdat hulle en die organisasie Freedom Under Law (FUL) onder die indruk was dat die saak eers Maandag aangehoor sal word.
Molahlehi het volgens City Press beslis dat Mdluli se regspan wel ’n prima facie-saak het. Hy het dus “in die afwesigheid van enige teenkanting deur die verweerders” beslis dat “daar geen rede is om die aansoeker se weergawe te betwyfel nie”.
Lt.kol. Lindela Mashigo, nasionale polisiewoordvoerder, het gisteraand gesê die polisie is baie verbaas oor dié verwikkeling, maar gaan Maandag normaalweg met die saak voort.
Volgens City Press het adv. Graham Moshoana, Mdluli se regsverteenwoordiger, glo in ’n brief aan die registrateur van die arbeidshof gevra dat Mdluli se saak Vrydag al aangehoor moet word.
Moshoana het glo in dié brief aangevoer dat Mdluli se skorsing onwettig is en sy kliënt se waardigheid aantas.
Moshoana was glo besorg dat die naweekkoerante sou voortgaan om Mdluli af te takel as die saak nie dringend aangehoor word nie.
Mdluli het onder meer gekla dat hy nie die geleentheid gegun is om sy kant van die saak te stel voordat hy vir die tweede keer geskors is nie.
Volgens Mdluli het hy op 15 Mei, die dag toe FUL hof toe gegaan het om ’n dringende hofbevel te verkry om hom te verhinder om langer in die polisie diens te doen, siek geword en moes hy ’n dokter gaan sien.
Dié het hom glo afgeboek weens “stres en hoë bloeddruk” en glo ook gewaarsku dat Mdluli se toestand “lewensgevaarlik” kan word as hy sou aanhou werk.
Mdluli is die eerste keer deur lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi uit misdaadintelligensie geskors. Nathi Mthethwa, minister van polisie, het egter sy skorsing ongedaan gemaak en hom uit misdaadintelligensie geskuif.
Hy is op 25 Mei ’n tweede keer deur Mkhwanazi geskors.
Adv. Jeremy Gauntlett van FUL het gisteraand gesê dat hy self eers 17:00 oor die radio van die opheffing gehoor het, maar dat dit nie sy organisasie se aansoek om ’n dringende interdik teen Mdluli beïnvloed nie.
“Ek is wel verbaas, want dit klink my hierdie besluit is Vrydag skokkend vinnig deurgedruk,” het Gauntlett gesê.