Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Medalje het net 1.34% goud

Deur: Lourensa Eckard 2012-08-07 21:59
Die goue medalje wat by die Olimpiese Spele uitgedeel word bevat meer silwer as goud en is slegs sowat R6 535 werd.

Goud maak net 1.34% van die medalje uit, volgens die webwerf www.london2012.com.

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se maatreëls stipuleer dat die goue medalje ’n minimum van 6 g goud bevat.

’n Olimpiese goue medalje het in 1912 laas net uit goud bestaan.

Die medaljes is deur David Watkins, ’n Britse kunstenaar, ontwerp.Volgens Watkins is lyne wat oor die medalje strek simbolies van die toewyding en deursettingsvermoë van die atlete wat die medaljes wen.

By die bekendstelling van die ontwerp in Londen verlede jaar was sommige mense ongelukkig met die gebrek aan Britse kultuur wat op die medalje uitgebeeld word.

Watkins is gekritiseer omdat daar skynbaar te min aan die medaljes is wat trots en eg Brits is.

Meer as 2 100 medaljes is vervaardig en sal tydens die 302 medaljeplegtighede uitgedeel word.

Die goudprys het sedert die Olimpiese Spele in Beijing in 2008 met 90% gestyg.

Die medaljes se lint is pers en simboliseer die koningin se diamantjubileum vanjaar.
«Terug