Johannesburg. - Meer as 600 mense is sedert die begin van die maand tot gister in motorongelukke dood.
Luidens die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) se voorlopige verslag wat gister uitgereik is, is daar sedert 1 Desember 676 mense in 564 motorongelukke dood.
1 475 mense is tussen 1 Desember 2011 en 10 Januarie 2012 in ongelukke dood.
Ashref Ismail, RTMC-woordvoerder, het gesê dit is net voorlopige getalle omdat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) voorskryf dat statistieke oor padsterftes ook die mense moet insluit wat binne 30 dae ná ’n ongeluk in die hospitaal sterf.
“In hierdie stadium is die syfers net die mense wat op die toneel dood is.”
Volgens hom is ’n groot bron van kommer dat 70% van noodlottige ongelukke botsings reg van voor is.
“Dit dui aan dat mense of moeg of ongeduldig is of dronk bestuur en nie die padwette gehoorsaam nie.
“Motoriste raak ongeduldig, steek voertuie verby en bots teen ’n hoë spoed.”
Ismail het ’n beroep op motoriste gedoen omseker te maak dit is veilig voordat hulle ’n ander voertuig verbysteek.
“Die motoris moet homself altyd dié drie vrae afvra: Is dit wettig? Is dit veilig? Is dit die moeite werd? Dan sal meer lewens gespaar word.”
Gedurende dieselfde tydperk is meer as 28 000 voertuie by padversperrings afgetrek en meer as 10 900 mense vir alkohol getoets.