Amerikaners besit dalk beduidend meer vuurwapens as Suid-Afrikaners, maar Suid-Afrika se vuurwapenmoordkoers is sowat vyf keer hoër.
Die debat oor vuurwapenbeheer in die VSA het weer opgevlam ná Vrydag se massamoord in die Sandy Hook-laerskool in Newtown, Connecticut, waar 20 kinders en ses volwassenes met ’n semi-outomatiese geweer afgemaai is.
Statistieke wat The Guardian in Julie verkry het oor die besit en gebruik van vuurwapens wêreldwyd wys dat die VSA die land is waar burgerlikes die meeste vuurwapens besit. Daar is 88,8 vuurwapens vir elke 100 mense en altesame 270 miljoen wapens.
In Suid-Afrika is daar 12,7 vuurwapens vir elke 100 mense en altesame 5,9 miljoen wapens.
Hoewel die persentasie moorde in die VSA wat met vuurwapens gepleeg word, hoër is as in Suid-Afrika (60% teenoor 45% van alle moorde), is die vuurwapenmoordkoers vir die algehele bevolking laer. In Suid-Afrika is daar 17 vuurwapenmoorde vir elke 100 000 mense, teenoor net minder as 3 per 100 000 in die VSA.
Claire Taylor van Gun Free South Africa (GFSA) wys daarop dat dié syfers selfmoord uitsluit. Die getal selfmoorde in die VSA wat met ’n vuurwapen gepleeg word, is byna dubbel die moorde.
Taylor haal statistieke aan uit ’n verslag deur die Amerikaanse departement van gesondheid. Daaruit blyk dat daar in 2011 3,6 vuurwapenmoorde vir elke 100 000 mense was.
Volgens Pam Crowsley, ook van GFSA, het Suid-Afrika ’n baie goeie Vuurwapenbeheerwet. “Die probleem is dat dit nie behoorlik toegepas word nie.”
Frans Cronjé, adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasse-verhoudinge, het verlede jaar geskryf die Vuurwapenbeheerwet het grootliks misluk. Een van die nuwe maatreëls is dat wapeneienaars hul lisensies binne vyf jaar moet hernu, en dan elke vyf tot tien jaar.
Probleme met dokumentasie en burokratiese rompslomp het egter tot ’n yslike agterstand in die hernuwings gelei.
- Die Australiese Herald Sun berig daar is meer wapenhandelaars in die VSA as groot supermarkte: 51 500 kleinhandelaars van vuurwapens teenoor 36 500 supermarkte. As pandjieswinkels, antiekwinkels en ander handelaars bygetel word, is daar sowat 129 800 wapenhandelaars.
13 van die 14 massamoorde wat sedert 1999 in die VSA gepleeg is, is gepleeg met vuurwapens wat wettig bekom is.