Betogings teen swak dienslewering neem teen ’n skrikwekkende pas toe.
Dít blyk uit die jongste statistieke van Municipal IQ, ’n onafhanklike aanlyn-inligtingsdiens oor plaaslike regering.
Dié inligting dui daarop dat daar verlede maand meer sulke betogings in Suid-Afrika was as in enige ander maand sedert 2004.
Municipal IQ het tot dusver vanjaar 67 grootskaalse betogings teen swak dienslewering aangeteken – gelykstaande aan 14% van alle sulke betogings oor die afgelope 8½ jaar.
Volgens Kevin Allan, uitvoerende bestuurder van Municipal IQ, het die Wes-Kaap en die Vrystaat sover die ergste deurgeloop.
In Gauteng dui die statistieke op ’n afname, maar Allan sê daar was vandeesmaand weer oënskynlik ’n kommerwekkende toename in dié provinsie wat moontlik die prentjie vorentoe sal beïnvloed.
“Dit is natuurlik baie moeilik om met enige akkuraatheid te voorspel wat vorentoe sal gebeur, maar die groot getal onlangse betogings wys heel moontlik daarop dat ons in Junie en Julie selfs meer betogings kan hê as met verlede maand se hoogtepunt,” het Allan gesê.
Hy het daarop gewys dat die wintermaande gewoonlik ’n teelaarde vir sulke betogings is, vermoedelik omdat die gebrek aan byvoorbeeld behoorlike behuising en kragtoevoer dan ’n meer regstreekse impak op mense het.
Volgens Allan dui data wat hulle tussen 2009 en 2011 ingevorder het op ’n toename in betogings teen swak dienslewering oor die wintermaande.
Dit lyk ook asof daar ’n toename in geweld tydens dié betogings is – veral by opvolgbetogings waar mense van voorheen oor ’n sekere kwessie betoog het en steeds geen verbetering sien nie.
“Wanneer mense vir die eerste keer teen swak dienslewering optrek is die betoging gewoonlik vreedsaam en ordelik, maar wanneer daar nie aandag aan hul griewe gegee word nie, ontstaan daar dikwels ’n indruk dat hulle geïgnoreer word,” het Allan verduidelik.
Volgens Allan kon provinsiale LUR’e van die verantwoordbare regeringsdepartemente dikwels suksesvol tussenbeide tree om die spanning onder ongelukkige gemeenskappe te verlig, maar dit word ’n gevaarlike speletjie wanneer die gemeenskappe begin voel dat politici hulle bloot heuning om die mond smeer.
In sulke gevalle kan die gemeenskap begin voel dat dit byvoorbeeld nodig is om buitebande op die snelweg aan die brand te steek en verkeer te ontwrig eerder as om ’n vreedsame optog te beplan om hul punt tuis te bring.
“Ek hoop dat die regering versigtig sal wees wanneer beloftes aan sulke gemeenskappe gemaak word, want ons is nou besig om op verskeie plekke ’n gevaarlike punt te bereik waar mense se geduld doodeenvoudig besig is om uit te loop – die geweld tydens betogings is reeds besig om gevaarlike vlakke te nader.”
Allan het uitgewys dat plaaslike raadslede se eiendom in die verlede al beskadig of hul huise afgebrand is. Die werklike gevaar bestaan nou dat sulke raadslede vorentoe direk geteiken en selfs vermoor kan word.