Dakloos. Haweloos. Weerloos. Dood.
Dít is die lot van mense uit 1.8 miljoen huishoudings landwyd wat in die bittere koue sonder beskerming is, het provinsiale en private nooddienste gister gewaarsku.
“Jaarliks is daar gevalle oor die land heen waar mense doodgaan van koue,” het Jeffrey Wicks, Netcare 911-woordvoerder, gesê.
“In Suid-Afrika is daar baie mense wat nie warm genoeg aangetrek is en nie skuiling teen die elemente het nie. Ouer mense en kinders gaan die maklikste dood aan koue.”
In die Bophelong- informele nedersetting in Vanderbijlpark het kinders gister buitebande aan die brand gesteek in ’n poging om warm te bly.
Volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) is die grootste konsentrasie daklose mense in Gauteng (775 000), gevolg deur die Wes-Kaap (237 000) en KwaZulu-Natal (202 000).
Dié mense het ook selde toegang tot elektrisiteit. Die huishoudings wat wel toegang tot elektrisiteit het en welgesteld genoeg is om dit as hittebron te gebruik, het sedert 2010 met meer as 2,3 miljoen huishoudings verswak, het Lucy Holborn van die SAIRV gesê.
Miljoene is dus slegter daaraan toe as ’n jaar gelede en gebruik konkavure of paraffienstowe en -lampe om warm te bly.
Oop vure en lampe wat langdurig brand, verhoog die brandgevaar en kans vir beserings.
Maj. Carin Holmes van die Heilsleër in Johannesburg het bevestig dat die aanvraag na warm komberse en kos skerp gestyg het.
“Ons het verskriklik baie mense wat komberse vra. Ons gee nou maar sop. Daar is omtrent 300 mense wat smiddae na ons sentrum in die middestad kom om te kom sop kry en in die aande gaan personeel van ons ander Johannesburgse takke ook uit met komberse en sop.”
Biskop Paul Verryn van die Metodistekerk wat betrokke is by die sentrum vir haweloses langs die hooggeregshof in Johannesburg het gesê die koue herinner hom aan die skeiding tussen ryk en arm.
“Dié weer is opwindend, maar as jy op straat is, met een kombers en ou klere, is jy baie weerloos. Kos is ook ’n groot probleem. Mense raak baie honger wanneer dit koud is.”