Beeld

Moeg vir kwale, toe spring hy in rivier

Deur: Riata Nel 2012-12-19 07:07
’n Hartlyer wat moeg was “om siek te wees en sleg te voel” het gisteroggend selfmoord gepleeg deur van ’n brug op die R57-pad tussen Sasolburg en Vanderbijlpark in die Vaalrivier te spring.

Mokutu Zacharia Mokhomong (39) was ’n veiligheidswag by Protea Coin in Sasolburg.

“Sy kop was ’n paar oomblikke lank bo die water, maar hy het stadig afgesak en onder die water verdwyn.

“Daar was ’n paar borrels, toe is daar niks. Hy het glad nie gespartel of probeer om bo te bly nie,” het ’n ooggetuie gesê.

Hy het op die brug vir Mathabo Mochela, ’n kollega, gebel en gesê dat hy moeg is om siek te wees en gesê dat hy ’n einde aan alles wil maak.

Hy het ook gesê dat hy op die brug staan en in die rivier gaan spring.

“Ek het saam met haar (Mochela) na die brug gery en vir paramedici van Vaal Emergency Care, wat langs die pad gestaan het, gesê van die oproep,” het Fiona Calder, sake-ontwikkelingbestuurder van Protea Coin, gesê.

“Mathabo het op die brug na hom gehardloop en kon amper aan hom raak, toe hy in die rivier spring.”

Motoriste het hul motors op die brug geparkeer en oor die brugreling geleun om te sien wat aangaan.

Die Vaalrand-polisieduikers het die lyk uit die water gehaal.
«Terug