Twee mans van Rustenburg in Noordwes is gearresteer weens die moord op Mohammed Fayaz Kazi (26) wat verlede Maandag so erg aangerand is dat hy aan breinbloeding gesterf het.
Die een verdagte (27) is laat Saterdagaand gearresteer. Die tweede (33) het homself gisteroggend in die teenwoordigheid van sy prokureur by die Magaliesburg-polisiestasie oorgegee, het brig. Neville Malila, polisiewoordvoerder, gesê.
Die twee verskyn vandag in die Krugersdorp-landdroshof op aanklagte van moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
“Ons is dankbaar die polisie het hulle so gou gearresteer,” het Hasimbhay Motara, Kazi se skoonpa, gister gesê.
“Ons hoop die ander mans wat by die aanranding betrokke was, word ook gearresteer. Ventersdorp se mense (waar Kazi ’n winkel gehad het) het saam gebid en gehoop hulle word gevang.
Ons kry van oral ondersteuning, selfs van mense wat ons nie ken nie.”
Die arrestasies volg op ’n voorval Maandagmiddag in Magaliesburg toe twee mans Kazi glo beledig en neerhalende opmerkings oor sy Moslemhoed en baard gemaak.
Kazi en ’n vriend, Anser Mahmood (33), het op pad na Ventersdorp by ’n kosplek gestop om iets te ete te kry sodat hulle hul vas vir Ramadan kon breek.
Die mans wat Kazi beledig het en nog mans wat by hulle aangesluit het, het die Moslem-mans buite die kosplek ingewag en aangerand.