Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Nie álle skole kry boeke, sê onnie

Deur: Jeanne-Marié Versluis 2012-08-21 08:40
Terwyl die parlementêre portefeulje­komitee oor basiese onderwys ingelig is 1 236 554 handboeke is reeds by alle skole in Limpopo afgelewer, beweer ’n onderwyser nie ’n enkele boek het by laerskole in die Sekhukhune-distrik uitgekom nie.

Die regsentrum Section27 wil nou weer hof toe om toe te sien dat al die handboeke afgelewer word en dat ’n “betekenisvolle” inhaalplan (vir die leerlinge wat met hul werk agter geraak het), in werking gestel word.

Die portefeulje­komitee het die inhaalplan vir Limpopo verlede week aanvaar.

Section27 het Vrydag in ’n ope brief aan leerlinge, ouers, onderwysers en skoolbeheerliggame gesê hy is ernstig bekommerd oor die departement van basiese onderwys se verklarings dat die aflewering bykans afgehandel is.

Volgens Section27 het Panyaza Lesufi, die departement se woordvoerder, die situasie in Limpopo as “heeltemal goed” bestempel.

Die regsentrum het egter gesê hy ontvang steeds klagtes dat baie leerlinge steeds op handboeke wag. “Ons het met baie skole gepraat wat nog geen handboeke ontvang het nie.”

Volgens die sentrum het ’n anonieme onderwyser in Limpopo Donderdag in ’n e-pos aan hom gesê hy/sy “was diep hartseer en verward” oor die nuus dat handboeke by alle skole in die provinsie afgelewer is.

“Ek kan u verseker dat so ver ek weet, geen enkele boek afge­lewer is by laerskole in (die) ­Sekhukhune-gebied tot nou nie.

“Boeke is net afgelewer by ­hoërskole. Wanneer ons die provinsiale owerhede vra, sê hulle dit is nie in hul hande nie, maar in die hande van die basiese onderwysdepartement,” het die onderwyser beweer.

“Ek weet nie hoe hulle nou kan praat van inhaalplanne wanneer handboeke nog nie afgelewer is nie.”

Hoewel die portefeuljekomitee die inhaalplan goedgekeur het, meen Section27 dit voldoen nie aan ’n vroeëre bevel van die hooggeregshof in Pretoria nie.

“Dit (die plan) het ’n tekort aan dringendheid – dit het nog nie eens begin nie en dit is nie duidelik wanneer dit sal begin nie. Dit verskaf geen detail oor ekstra klasse vir leerlinge en opleiding vir onderwysers nie...”

Section27 het gesê skoolhoofde en onderwysers het ook onvoldoende sanitasiegeriewe by skole in Limpopo onder sy aandag gebring. “Dit beteken talle leerlinge en onderwysers moet smerige en gevaarlike toilette gebruik.”

«Terug