Motoriste wat tussen die Sefako Makgatho- en die N4-afrit by Pretoria beweeg sal van nou af baie noukeurig na hul spoed moet oplet.
Dít nadat Sanral nóg twee tydelike spoedkameras weerskante van die N1-snelweg, tussen die Stormvoël- en die Sefako Makgatho (voorheen Zambesi)-afrit, opgerig het. Sanral het reeds einde verlede jaar tydelike spoedkameras weerskante van die N1-snelweg, tussen die Stormvoël- en die N4-afrit, aangebring.
Weens padwerk op dié stuk pad is die snelheidsperk verlede jaar tydelik van 120 km/h tot 80 km/h verlaag.
“Die bykomende twee kameras is om presies dieselfde rede as die vorige twee opgerig,” het Louise Brits, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, gesê.
“Motoriste hou nie by die nuwe spoedgrens nie en dit maak die pad uiters gevaarlik vir padwerkers.”
Volgens Charmaine van Wyk, woordvoerder van Bakwena Platinum-konsessiehouers, is dié maatskappy nie eens bewus van die nuwe spoedkameras nie.
Van Wyk het gesê die bestaande kameras tussen die N4- en die Stormvoël-afrit het sonder twyfel die getal ongelukke daar laat afneem.