“Ek is nou banger as voor enige van die vorige operasies.”
So het Pippie Kruger se ma, Anice, gister gesê voordat Pippie in ’n hospitaal in Johannesburg geopereer is om die letsel onder haar linkerarm te verwyder wat beweging belemmer.
Dit is die eerste keer sedert September dat Pippie in die hospitaal oornag.
Sy het Oujaarsaand verlede jaar verbrand toe vuuraansteekjel in haar pa, Erwin, se hande in hul tuisdorp, Lephalale (Ellisras), ontplof het. Sy is sedertdien verskeie kere geopereer.
“Ek is nie meer gewoond daaraan dat Pippie in die hospitaal moet slaap nie,” het Anice gesê.
Pippie se pa het voordat sy teater toe is, gehelp om haar spesiale pienk teaterklere aan te trek.
“Ek verpes dit as Pippie hospitaal toe moet kom,” het hy gesê.
Volgens dr. Ridwan Mia, Pippie se plastiese chirurg, is dit ’n eenvoudige operasie wat selde langer as ’n uur duur. “Onder Pippie se linkerarm is ’n groot letsel wat verhard het. Dit veroorsaak dat die vel om die letsel saamtrek.
“Die operasie gaan haar hopelik help om haar skouer en arm beter te beweeg,” het Mia gesê.
Volgens Erwin voel die letsel soos ’n stuk harde rubber, maar Anice meen dit voel eerder soos boombas.
“Ons beplan al maande hieraan. Dit gaan Pippie se lewe baie makliker maak, want sy krap heeltyd daaraan en dan bloei dit. Daarom het dit nog nooit regtig behoorlik genees nie.”
Pippie sal nog soortgelyke operasies ondergaan om die ander letsels op haar lyfie te verwyder, het haar ma gesê.
Die Krugers het gister Kersfees gevier omdat hulle nie seker is hoe lank Pippie se herstel sal duur nie.
“Ons het sommer gister presentjies uitgedeel en Pippie is baie bederf,” het Anice gesê.
Volgens Pippie se spesialis sal sy haar armpie binne ’n week kan beweeg.