Hoewel hy loopafstand van sy werk is, ry hy met sy nuwe motorfiets soontoe.
Chengetai Isaac Chauke (26) was net meer as ’n maand gelede in trane nadat die motorfiets waarvoor hy so lank gespaar het in ’n brand in ’n Pretoriase plakkerskamp verwoes is.
Saterdag het hy sy nuwe Honda Ace 125-motorfiets ter waarde van R9 000 as geskenk van Honda Kyalami gekry.
Chauke het met die hulp van die 3030MBS-bestuurskool in Centurion sy rybewystoets verlede Maandag afgelê.
“Ek het die eerste keer my leerlingrybewystoets gedruip in Centurion. Toe kom ek dit die tweede keer in Johannesburg deur,” het hy gister met ’n glimlag gesê.
Chauke het trots sy rybewys aan Beeld gewys.
Sy ou motorfiets, wat hy vir R3? 350 gekoop het en waaraan hy nog gewerk het, is saam met sy hut en nog nege hutte in die Woodlane-plakkerskamp oorkant die Moreleta-gemeente in Woodlands verwoes.
Dit was nadat ’n gasstofie in een van die hutte omgeval het.
Oor sy motorfiets is hy baie gelukkig.
“Hy ry lekker,” het hy gister gesê.
Hy ry werk en terug daarmee, hoewel sy werk ’n paar meter van sy huis is. Hy doen stukwerk.
“Ek is baie dankbaar, want almal het my mooi en vinnig gehelp,” het Chauke gesê.