Kaapstad. – ’n Nuwe proses sal begin word om BBP-stralers vir die regering aan te skaf.
Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het gister gesê sy het die verkryging van twee nuwe BBP-stralers vir eers gekanselleer.
“Ons is nie bereid om op die besonderhede van die saak in te gaan nie,” het sy gesê.
Die proses is laat vaar nadat dit vroeër aan die lig gekom het dat die prosedures betreffende die beplande transaksie verdag is.
Die minister het bevestig dat die departement al $10 miljoen (sowat R80 miljoen) aan die Amerikaanse vliegtuigvervaardiger Boeing betaal het, maar gesê dié betaling was nie ’n deposito nie. “Geen ooreenkoms met Boeing is onderteken nie. ’n Proses was bloot aan die gang en die oorbetaling van $10 miljoen was bloot deel van die proses.”
Die departement het op 23 Mei versoeke vir kwotasies gerig wat aangedui het die sperdatum vir indiening is reeds 31 Mei.
Boeing het die departement al op 24 Mei verwittig van ’n Boeing 777 wat hy vir sowat $155 miljoen aan die departement kan verkoop, waarna die $10 miljoen betaal is, word verneem.
Gister het Mapisa-Nqakula bevestig dat die Europese vliegtuigvervaardiger Airbus ook ’n aanbod gemaak het.
Sy wou nie sê wat die aanbod was nie. Albei aanbiedinge het volgens haar nou verval.
“Boeing se aanbod het op 15 Junie verval toe die departement nie ’n finale koopkontrak onderteken het nie en Airbus s’n op 30 Junie.”
Mapisa-Nqakula is gevra wie vir die soektog na nuwe BBP-vliegtuie verantwoordelik was, maar sy wou nie sê nie. “Dit is irrelevant wie die proses gedryf het.”
Die openbare beskermer en die ouditeur-generaal ondersoek die transaksie. “Al die antwoorde sal deur dié ondersoeke aan die lig kom.”
Die nuwe proses sal nie wag dat die ondersoeke afgehandel word nie.
“Die bestaande vliegtuie is onbetroubaar en ons moet om veiligheidsredes nuwe kapasiteit verkry. Die proses sal so spoedig moontlik begin.”
Miguel Santos, ’n Boeing-woordvoerder, het gister bevestig dat die $10?miljoen Donderdag terugbetaal is.