Ina Perlman, ’n stigterslid van Operasie Honger, is eergister in die ouderdom van 86 in Knysna oorlede.
Haar familie het in ’n verklaring gesê sy was ’n hartstogtelike vegter vir maatskaplike geregtigheid.
“Sy het geglo klein verskille kan groot verandering teweegbring en selfs in die donker dae van apartheid was sy nooit moedeloos nie en selde ontsteld,” het die verklaring gelui.
Luidens die verklaring het sy hart en siel in haar werk gesit, of dit nou Operasie Honger was of klein gemeenskapsprojekte in Nature’s Valley in die Suid-Kaap, waar sy die laaste paar jaar gewoon het.
Perlman word oorleef deur vier kinders, Rosemary, David, Harriet en John, en ses kleinkinders.
Perlman het haar loopbaan as menseregte-aktivis vir minderbevoorregtes in 1940 as vrywilliger begin.
Drie jaar nadat sy Operasie Honger in 1980 help stig het, is sy as uitvoerende direkteur van dié nasionale voeding-en-selfhelp-skema aangestel.
Tot haar aftrede in 1993 het Perlman Operasie Honger uitgebrei tot ’n organisasie wat meer as 2 miljoen mense gevoed het.
’n Gedenkdiens vir haar word op 4 Julie 12:30 in die Emanuel-tempel in Parktown, Johannesburg, gehou.