Bloemfontein. – ’n Broer en suster wat op die Olimpiese Spele vir Suid-Afrika gaan pluimbal speel het, is dankbaar dat hul pa “gewag” het dat hulle van Londen terugkeer voordat hy oorlede is.
Wiaan Viljoen (27) en sy suster Annari (25), wat onderskeidelik in die dubbelspel vir mans en vir vroue aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, het die geleentheid gekry om afskeid te neem van hul pa, Jan (60), nadat hul Olimpiese droom verwesenlik is.
Hy is Saterdagmiddag ná ’n stryd van twee maande teen maagkanker in ’n Bloemfonteinse hospitaal oorlede.
Hy moes weens ’n maaginfeksie ’n noodoperasie in dié hospitaal ondergaan ’n dag voordat sy kinders verlede week aan hul eerste wedstryde in Londen sou deelneem.
Wiaan sê hul ma, Helena, het hulle op hul pa se aandrang nie laat weet van die noodoperasie nie omdat hy wou hê hulle moet eerder op hul deelname fokus en hulle nie oor hom kwel nie.
Die twee oud-Kovsies het Donderdag van Londen teruggekeer nadat die Suid-Afrikaanse vrouespan in die dubbelspel in die kwarteindronde en die manspan in die dubbelspel in die uitdunne uitgeval het.
“Ek dink my pa het net gewag dat ons terugkeer van die Olimpiese Spele,” sê Wiaan.
Hulle het Donderdag van Londen teruggevlieg. Hul pa, wat reeds in ’n semi-koma was, het hulle dadelik herken en vir hulle ooggeknip toe hulle hom Vrydag in die hospitaal besoek het.
’n Kosbare oomblik is toe met hul pa gedeel om dankie te sê vir alles wat hy vir hulle beteken het.
“Ons is dankbaar vir alles wat hy ons gegee het. Hy was ’n sterk man wat sy gesin altyd eerste gestel het,” sê Wiaan.
Jan word ook oorleef deur nog ’n dogter, Jané (20), en seun, Christiaan (15).

Wiaan en Annari Viljoen voor hul vertrek na Londen.