Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Pippie Langkous se Afrikaanse ‘ma’ sterf

Deur: Pauli van Wyk 2012-06-11 23:21
Die vrou wat Pippie Langkous Afrikaans laat praat het, is in die ouderdom van 90 oorlede.

Nerina Ferreira was benewens vertaler en verwerker van wêreldliteratuur vir die Afrikaanse teater en die SAUK ook ’n aktrise en radioregisseur.

Sy is gister net ná 17:00 in Seepunt, Kaapstad, oorlede.

Ferreira was bekend om haar begaafdheid en bemind om haar warm hart.

“Ek sal altyd onthou hoe verskriklik warm en vol omgee sy was,” het Pieter de Vos, haar susterskind en “groot pel”, gesê.

“Sy was so bekend en soveel mense het na haar opgekyk, maar sy het dit altyd reggekry om in die stilligheid liefdadigheid te doen aan mense wat dit bitter nodig gehad het.

“Daarby het sy ’n fenomenale gebruik van Afrikaans gehad.”

Sy het vroeër gesê Shakespeare het haar die meeste uitdagings gebied.

Haar seun Anton het haar as onvergeetlik beskryf.

“Sy was ’n uitsonderlike karakter, ’n vrye gees en 50 jaar voor haar tyd.”

Ferreira was lank olik, maar het in April so siek geword dat sy na die hoësorgeenheid by Palm Garden in Seepunt geskuif is.

“Vir ons is dit die einde van ’n era,” het Anton se vrou, Susan, gesê.

“Ons is dankbaar vir haar. Ek dink nie sy wou nog gelewe het nie.

“Haar brein was helder, maar haar liggaam wou net nie meer nie. Die laaste tyd was nie vir haar lekker nie.

“Ons sal die begrafnis eers hou wanneer ons al haar pelle in die hande gekry het,” het sy gesê.

«Terug