Beeld

Polisie kry dalk ook troffels om te bou

Deur: Jan-Jan Joubert 2012-07-22 23:02
Benewens dienspistole en ander bybehore om misdadigers te troef, sal ’n troffel en kennis van bouwerk sommige polisielede dalk eersdaags nuttig te pas kom.

Dít blyk uit ’n parlementêre antwoord deur Thulas Nxesi, minister van openbare werke, dat die polisie self verantwoordelik sal wees vir die bou en instandhouding van polisiekantore.

In die verlede was die departement van openbare werke daarvoor verantwoordelik, maar dié verantwoordelikheid is onlangs aan die polisie oorgedra.

Die enigste sê wat Nxesi oor polisiekantore oor het, is of hulle verkoop mag word.

Die inligting blyk uit sy antwoord op ’n parlementêre vraag deur die DA-LP Dianne Kohler Barnard oor hoeveel nuwe polisiekantore die staat gaan bou.

Nxesi het erken hy het geen idee nie, want dis nie meer sy verantwoordelikheid nie.

Kohler Barnard het snydend gereageer. “Wat moet die polisie volgende doen, kruidenierswinkels ook bedryf?” wou sy weet.

Sy het uitgewys hoe omvangryk die polisie se misdaadbekampingstaak is.

“Hoe meer tyd polisielede moet deurbring met take wat nie hul kerntaak is nie, hoe minder tyd het hulle om hul kerntaak te verrig,” het sy uitgewys.

Sy sal onverwyld parlementêre rekenskap van Nathi Mthethwa, minister van polisie, eis oor wie presies die bouwerk sal behartig en waar die geld daarvoor vandaan moet kom. 
«Terug