Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Polisie lê beslag op R10 miljoen se dwelms in Johannesburg

Deur: Jani Meyer 2012-08-23 14:52
Die Valke, Noordwes-polisie en Suid-Afrikaanse Inkomstediens het vandag (Donderdag) in ’n gesamentlike operasie beslag gelê op dwelms met ’n straatwaarde van sowat R10 miljoen.

Kol. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het gesê twee Suid-Afrikaanse vrouens en ’n Nigeriese man is gearresteer.

’n Vrou is by ’n berging-fasiliteit in 38 Laubstraat gearresteer waar die meerderheid van die dwelms in ’n agterkamer onder beddegoed gevind is.

Naidoo het gesê die vrou was skynbaar bewus die dwelms is daar gestoor. Sy is die opsigter van die gebou.

Die eienaar is in Durban en word nie van samewerking verdink nie.

Die Nigeriër en ’n tweede vrou is in ’n huis in Radiokop, Honeydew gearresteer waar nog dwelms gevind is.

Naidoo het gesê die Nigeriër is ’n sleutelspeler in dwelmhandel en die dwelms is waarskynlik vir die plaaslike mark bedoel.

Die dwelms sluit in efedrien, kokaïne en saamgeperste dagga.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.


Foto's: Cornel van Heerden


«Terug