Geskenke by ’n padversperring?
Benoude motoriste se gesigte het almal breë glimlagte gekry toe polisielede – wat in Kersvader- en narpakke, helder pruike en Kersfeesmussies geklee was – eergister lekkers en geskenkpakkies by ’n pret-padversperring in Walkerville, suid van Johannesburg, uitgedeel het.
Lede van die De Deur-polisie en die Walkerville-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die lekkers en geskenkpakkies uitgedeel.
“Ons polisiekantoor is alombekend as die stasie van lig, want waar daar lig is, is daar lewe,” het kol. Sonja Slabbert, stasiebevelvoerder, by die padversperring aan Beeld gesê.
Sy het ook ’n Kersfeesmus gedra en gehelp geskenke uitdeel.
“Dit is ’n fun padversperring. Ons wil aan die gemeenskap wys dat die polisie nie net gaan oor wetstoepassing en toughness en mense toesluit nie.
“Ons wil wys dat die polisie ook ’n hart het.”
Honderde motoriste is gister voorgekeer en as daar kinders in die motor was, is hulle afgetrek net om bederf te word met ’n geskenkpakkie.
“Dit is fun om te sien hoe die mense se gesigte verander as hulle sien dat hulle iets kry.
“Dit gaan woes daar buite. Baie mense het seer. Hierdie tyd van die jaar is daar ongelukke en soveel dinge wat verkeerd gaan; ons wil net weer daai ligstraaltjie van hoop in die gemeenskap wees,” het Slabbert gesê.
Dié aksie is ’n jaarlikse instelling.
“Baie ander normale polisiëring en operasies word gedoen, en dié aksie moet mooi beplan word.”
’n Bakkievrag vol geskenke is uitgedeel. “Ons het baie skenkings gekry – baie dankie vir al die skenkings.”
“Daar het so baie slegte goed dié jaar in Walkerville gebeur. Dit is net ons manier om positiwiteit terug te bring,” het Ivon Parkes, GPF-bestuurder, gesê.
Om na die video te kyk, gaan na YouTube en tik “padblokkade met ’n verskil” in die soekveld.