Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Polisie sê niemand luister na húl kant

Deur: Jana van der Merwe 2012-08-21 07:19
Bloemfontein. – “Niemand gee ’n f** om oor die twee polisiemanne wat dood is nie.”

Só het ’n lid van die polisie se eenheid vir openbare orde by Lonmin se myn in Marikana gesê.

Volgens hom meen polisielede in die algemeen daar word nie genoeg geluister na hul kant van ’n saak nie.

Polisielede van verskeie provinsies se eenhede vir openbare orde is sedertdien by die myn in Marikana ontplooi.

Dit sluit bykans 70 polisielede van Welkom, Bethlehem en Bloemfontein in.

Oor die skietery wat die wêreld aan die praat het, het ’n lid van ’n eenheid vir openbare orde gesê: “Die ouens hier is positief. Ons sou almal dieselfde gedoen het.”

Dit is ’n feit dat die mynwerkers geglo het hulle sou nie doodgaan as daar op hulle geskiet word nie, het hy gesê.

“Dit was hulle lewe óf ons s’n. Die polisiemanne hier sê hulle kon onder die betogers AK47’s en pistole sien.

"Die plan was van die begin af dat ons (openbare orde) moes onttrek as hulle op ons skiet en die voorste linie aan die taktiese reaksie-eenheid oorgegee moes word.

Dit is wat gebeur het, maar daar word verwag ons moet maar aanhou skiet met rubberkoeëls.”

Polisielede meen min mense gee om oor hul twee kollegas wat vroeër hier wreed met kapmesse vermoor is.

“Wat van hul roudiens? Wie was daar? Wat van die derde polisieman wat in ’n ernstige toestand in die hospitaal lê?”



 
«Terug