Beeld

Poskantoorstaking is verby

Deur: Janice Keogh 2012-06-06 09:40

Die Poskantoor het vanoggend aangekondig dat die staking wat vir die afgelope twee maande posaflewering in Ekurhuleni, Mogale City, noord- en sentraal-Johannesburg en dele van Soweto geraak het, nou verby is.

Tydelike werkers van die Poskantoor het gestaak vir permanente poste. Gisteraand is 'n ooreenkoms tussen die Poskantoor en rolspelers, waaronder arbeidsmakelaars en vakbonde, bereik.

Janras Kotsi, uitvoerende hoof van possake by die Poskantoor, het in 'n verklaring gesê die agterstand in posaflewering in die gebiede wat deur die staking geraak is, sal binne die volgende paar dae uitgewis word.

"Ek wil namens die Poskantoor om verskoning vra aan enigiemand wat deur die gebrek aan dienste geraak is. Ons doen alles in ons vermoë om te verhoed dat só iets weer gebeur," het Kotsi gesê.

«Terug