Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Rea Vaya vervoer reeds 22 miljoen

Deur: Jinine Botha 2012-09-04 10:26
Drie jaar nadat die Rea Vaya-snelbusdiens amptelik in Johannesburg bekend gestel is, is die stad op die punt om met onderhandelings vir die volgende fase te begin.

“Bus en minibustaxi-operateurs wat moontlik deur die fase 1B geraak gaan word, het die afgelope twee maande geskrewe voorstelle by die stad ingedien.

"Die stad werk nou deur dié voorstelle en maak ook seker dat almal wat deur die roete geraak gaan word, genooi gaan word om aan die onderhandelings deel te neem. Ons is op die punt om daarmee te begin,” het Tebogo Mogashoa, woordvoerder vir Rehana Moosajee, burgemeesterskomiteelid vir vervoer, gister gesê.

Hoewel 90% van die 13 stasies langs die roete nog nie in werking is nie, is hulle klaar gebou, het sy bevestig.

“Sodra die onderhandelings suksesvol afgehandel is, kan die stad begin kyk na die aankoop van 134 nuwe busse vir die roete,” het Moosajee vroeër gesê.

Die busse sal voorstede in Soweto en gebiede in Richmond, Melville, Westbury, Riverlea, Bosmont, Brixton, Coronationville, New Canada, Pennyville, Crosby, Newclare en Noordgesig bedien.

Die roete gaan verby die universiteite van Johannesburg en die Witwatersrand en hospitale soos Helen Joseph.
 
Rea Vaya sal nie noodwendig uitbrei na die huidige roetes wat deur Gautrein-busse gedek word nie, maar daar word beoog om Rea Vaya later verder met Gautrein-stasies te integreer, het Moosajee gesê.

“Fase 1A en gedeeltes van 1B (soos Parkstasie en New Canada-stasie) verbind reeds met die Gautrein by Parkstasie en so word pendelaars van Soweto dus met gebiede soos Noordgesig, Florida, Roodepoort, Cresta, Yeoville en Parktown verbind.”

Mogashoa sê die stad hoop dat die hele fase 1B-roete teen die middel van 2013 vir die publiek in bedryf sal wees.

Sedert Rea Vaya op 30 Augustus 2009 amptelik as Suid-Afrika se eerste snelbusdiens geloods is, is 22 miljoen passasiers vervoer.

Die huidige fase wat deur Soweto, Eldoradopark, Booysens, die middestad en Ellispark loop, het sowat R3,5 miljard gekos om te voltooi.

Die stad het nog ’n verdere R800 miljoen vir die 2012/'12-boekjaar begroot om die huidige fase se onderhoudskostes te dek en gedeeltes van die volgende fase te finansier.






«Terug