“Vir elke rand wat iemand met ’n inkomste van R1 miljoen per jaar aan belasting betaal, kry hy maar 5c se voordele van die staat terug,” sê Dawie Roodt, ekonoom van die Efficient Group.
Roodt en Marc Sevitz, ’n geoktrooieerde rekenmeester en belastingkenner van TaxTim, verduidelik sowat 2 miljoen mense betaal sowat 80% van die totale inkomstebelasting van die land.
“Dit beteken sowat 6% van die totale bevolking dra die res,” sê Roodt.
Sevitz sê hoewel 13,7 miljoen mense by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geregistreer is, is dit die 5,6?miljoen wat belastingopgawes moes indien wat werklik ’n “bydrae tot die staatsbeursie lewer”.
“Die land se belastingbasis is baie dun. Dan kry meer as dubbel soveel mense as wat belasting betaal, staatstoelae,” sê hy.
Sowat 16 miljoen mense uit ’n bevolking van 51,7 miljoen is vir ’n staatstoelae geregistreer.
Roodt sê sowat 60% van die totale staatsbesteding gaan aan maatskaplike ontwikkeling (onderwys, gesondheidsorg en behuising) en dus die armes.
Volgens hom sorg die belasting van iemand wat R1?miljoen per jaar verdien, vir 20 arm gesinne.
Hoewel ’n land ’n veiligheidsnet vir armes moet hê, meen hy Suid-Afrika se net is te hoog gespan.
“Tans word produktiewe mense te swaar belas, terwyl onproduktiewe mense oormatig beloon word. Daar is dus geen aansporing vir mense om te werk nie.”
Sevitz sê benewens dat burgers nie werklik persoonlik voordele ontvang as hulle belasting betaal nie, vuur berigte van korrupsie en wanbestuur verder persepsies aan dat die regering belastinggeld mors.
In ’n peiling wat in Oktober deur die navorsingsagentskap TNS gehanteer is, is gevind dat amper die helfte van die stedelike volwassenes voel die regering mors belastingbetalers se geld.
Die regering het ook ander belastinginstrumente, soos die brandstofheffing, wat tot die staat se inkomste bydra.
“Daar is ook miljoene burgers wat in die informele sektor werk wat op ander wyses, soos deur BTW, ’n bydrae tot die inkomste van die land lewer,” sê Adrian Lackay, woordvoerder van die SAID.
Die e-tolstelsel wat nou mag voortgaan, gaan ook verder bydra tot die staat se inkomste.
Lullu Krugel, senior ekonoom van KPMG, sê persoonlike inkomstebelasting lewer steeds die grootste bydrae tot die totale inkomste van die land.
“34% van die totale inkomste van die land kom van inkomstebelasting, 27% van BTW en 21% word deur maatskappye bygedra.”
Roodt waarsku egter dat maatskappye nie werklik self die belastinglas dra nie, maar dat dié belasting weer na individue afgewentel word deur byvoorbeeld duurder produkte.
“Om dinge te red moet onder meer persoonlike belasting verlaag word. Dié is die ouens wat spaar. As hulle swaarder belas word, spaar hulle minder en groei die ekonomie nie.”