Jong volwassenes van Suid-Afrika verloor vertroue in die polisie se vermoë om die landsburgers veilig te hou.
Dit is bevind in ’n studie deur Pondering Panda, ’n verbruikersnavorsingsmaatskappy, wat gister bekend gemaak is.
Die studie is onder 4 024 landsburgers van verskillende rasse en demografiese gebiede tussen 18 en 34 jaar oud gedoen.
Volgens dié studie sê twee uit elke drie respondente (66%) hulle het nie vertroue dat die polisie in ’n tyd van nood tot hul redding sal kom nie.
Die redes daarvoor is omdat die meeste mense meen die polisie word nie behoorlik opgelei nie en omdat die regering nie genoeg bystand aan die polisie bied nie.
Volgens die studie meen slegs 38% van die respondente die polisie word behoorlik opgelei om hul werk te doen.
57% meen die regering het nie die regte mense in bestuursposisies in die polisie aangestel nie.
Van die respondente meen 47% van die polisie raak al hoe swakker in die uitvoering van hul pligte.
Volgens 62% word die polisie al hoe meer korrup en volgens 51% doen die regering nie genoeg om polisielede by te staan nie.
Shirley Wakefield van Pondering Panda het gesê dié statistieke is kommerwekkend, want dit wys duidelik dat die jonger garde vertroue in die polisie verloor het.
“Korrupsie staan veral uit as ’n groot probleem en dit is van deurslaggewende belang dat die publiek meen die polisie neem ’n sterk standpunt teenoor korrupte polisielede in.
“Die regering kort nou sterk leierskap.
“Die regering kan weer die guns van die publiek wen deur ’n polisiehoof aan te stel wat die publiek vertrou,” het Wakefield gesê.
Pondering Panda is lid van die World of Avatar-groep wat MXit besit en dié steekproef is op MXit gedoen.