Stellenbosch. – Die toekomstige Springbok-flank is gebore.
Dít was die woorde van Mark Boucher, voormalige Proteas-paaltjiewagter, gister op die sosiale netwerk Twitter toe hy Schalk Burger, Stormers-kaptein, en sy vrou, Michele, gelukgewens het met hul seuntjie se geboorte.
Dit is die egpaar se eersteling.
“Die toekomstige nr.?6-Springbok? Sonder twyfel,” het Boucher geskryf.
Dit is nog onbekend of die baba ook Schalk sal heet.
Verskeie ander bekendes het die Burger-egpaar op Twitter gelukgewens en ’n paar het geskerts.
Rob Louw, voormalige Springbok-flank, wou weet of die baba se “kop ook so groot soos Scalla s’n is” en het bygevoeg: “Ek kan nie wag om Schalk sr. oupa en Myra ouma te noem nie.”
Nie die familie óf Burger se agent kon gister vir kommentaar bereik word nie.
Michele Burger het verlede week op Twitter geskryf dat hulle hul seuntjie vroeër as wat verwag is, gaan ontmoet en dat hy met ’n keisersnit in die lewe gebring gaan word.