Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Seekoei dalk met hyskraan uit bad gelig

Deur: Hanti Otto 2012-08-22 22:10
Die seekoeibul Solly, wat na 'n veldwerker vernoem is, se verblyf in 'n swembad op 'n wildsplaas buite Modimolle (Nylstroom) kom waarskynlik binnekort tot 'n einde.

Daar gaan later Donderdag probeer word om hom met 'n hyskraan uit die swembad te lig.

Solly het pens en pootjies in die swembad beland ná die ander seekoeie glo lelik met hom was.

Nie dat hy omgee nie. Die bullebakke los hom uit en hy kry kos.

Dat ’n klomp mense al byna vier dae na ’n oplossing soek om hom uit te help is die minste van dié meneer se probleme.

“Om eerlik te wees, die seekoei lyk eintlik baie tuis,” het van die veeartse en wildvangers gesê wat deel van die sogenaamde “reddingspan” is.

Hulle wil nie sê presies waar dit is nie omdat so ’n wilde seekoei ’n gevaarlike handvol kan raak tydens die vangproses.

Die seekoei van sowat vier jaar oud was deel van ’n trop met hul eie natuurlike dam. Een van die ouer bulle het hom vermoedelik weggejaag. Daarom vermoed die span hy is ’n bul.

“En toe kom hy by die lodge aan. Dalk wou hy water drink, dalk het hy gedink dis ’n kleiner dam net vir homself. Maar die volgende oomblik was die seekoei in die swembad,” het ’n bron vertel.

Die probleem is dat die swembad van ongeveer 2 m diep nie trappe het nie. ’n Mens kan die dier nie volkome verdoof nie, want dan sak hy na die bodem en kan hy verdrink.

Dit sal ook nie werk om die swembad leeg te pomp nie, het die reddingspan gereken, want hoe kom so ’n logge lyf op droë grond?

Die moontlike oplossing is om die dier met ’n ligte dosis te verdoof, bande om sy lyf te span en hom met ’n hyskraan uit te lig.

“Dit bly ’n wilde seekoei. Ons moet ’n hyskraan kry wat ’n lang genoeg arm het om by te kom. Maar hoe langer ’n hyskraan se arm, hoe minder gewig kan dit optel. Ons is dus op soek na presies die regte hyskraan,” het ’n spanlid verduidelik.

Intussen voer hulle die ou grote maar deur lusern op die water te gooi.

“Hy bly meestal onder water, maar as die lusern op die water dryf, steek hy sy kop uit en vat dit sonder ’n probleem.”

André Snyman van die misdaadbekampingsorganisasie eBlockwatch het mense op Facebook vir voorstelle gevra oor hoe om die dier te help.

“Ons netwerk het meer as 80 000 lede en ons is ook baie betrokke by wildlewe. Daarom het ek die groep gemobiliseer om met voorstelle te help,” het Snyman gesê.


Agter teen die rand van die swembad kan die seekoei gesien word wat hom daar tuisgemaak het. Foto: Eblockwatch


Foto: Franco Megannon
 
«Terug