Jackie Selebi, voormalige polisiekommissaris, is toegelaat om vir ’n naweek huis toe te gaan nadat hy op mediese parool vrygelaat is.
Selebi (62), wat terminaal siek is, word by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria behandel en daar was berigte dat hy eergister ontslaan is.
Dr. Ernest Kenoshi, uitvoerende hoof van die hospitaal, het gisteraand aan Beeld gesê Selebi is nie ontslaan nie, maar is veronderstel om hom Dinsdag of Woensdag weer by die hospitaal aan te meld.
“Sy dokter het hom ’n naweek af gegee om saam met sy familie te wees,” het Kenoshi gesê.
“Hy sal tuis dialise ontvang.”
Selebi is in 2010 onder meer aan bedrog skuldig bevind.
Kort nadat hy gehoor het hy moet tronk toe gaan, is ernstige nierversaking by hom gediagnoseer en hy ontvang sedert 19 Desember nierdialise.
Dié soort behandeling kos tussen R150 000 en R200 000 per jaar.
Sou Selebi besluit om met sy behandeling by Steve Biko voort te gaan, sal hy op ’n waglys van 82 mense moet kom omdat hy nie langer ’n gevangene is nie, het The Sunday Independent berig.