Die verfilming van drie SAUK-sepies kon gister nie voortgaan nie weens ’n brand in ’n ateljeegebou van die openbare uitsaaier in Johannesburg.
Die brand het eergisteraand in Isidingo se ateljee ontstaan, na verneem word by die kroegdeel, en die stel is beskadig.
Volgens Beeld se inligting is Generations se kostuum-afdeling oorstroom toe die brandweer die brand geblus het.
Die brand het volgens Neil Rooi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, eergister omstreeks 20:30 by die ateljeegebou in Auckland Park uitgebreek. Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, het gesê die hele ateljeegebou is afgesper omdat daar nog baie rook in die gebou hang.
Hlaudi Motsoeneng, waarnemende bedryfshoof van die SAUK, het in ’n verklaring gesê maatreëls is getref om te verseker dat die produksie van Isidingo, Generations en Muvhango normaalweg sal kan voortgaan.
Volgens Motsoeneng neem dié sepies vyf verskillende verdiepings in beslag, waarvan slegs een beskadig is. Die episodes word maande vooruit verfilm.
Dit beteken volgens Motsoeneng dat produksie normaalweg sal kan voortgaan.
“Die SAUK se bestuurspan doen ons uiterste bes om seker te maak dat dinge so gou as moontlik terugkeer na normaal en dat ons stelle herbou word.”
Endemol, wat Isidingo vervaardig, kon nie gisteraand vir kommentaar bereik word nie.
Dr. Ben Ngubane, voorsitter van die SAUK-raad, het gister ’n dringende raadsvergadering belê om die kwessie te bespreek.
Die raad het glo tydens die vergadering onder meer kommer uitgespreek oor die veiligheid van werknemers.
Ngubane het uitgewys dat niemand in die brand beseer is nie. Volgens hom is traumaberading aangebied vir enige werknemers wat ten tyde van die brand naby die gebou was.