“Sorg dat niemand gekoring word nie.”
Volgens Emsie Schoeman, etiket-kenner, is dít die voorste plig van enige gasheer of gasvrou in die feestyd.
Schoeman, wat in Wildernis in die Wes-Kaap woon, sal Kersfees en Nuwejaar by haar familie in Gauteng deurbring.
Die feestyd kan ’n mynveld van etiketflaters wees, meen sy.
“Die gasvrou en gasheer moet leiding neem. Moenie gaste te lank laat wag op hul kos nie, want dan is die waarskynlikheid groter dat hulle gekoring gaan word.
Sorg dat daar ’n vetterige voering is vir hul mae. Gaste moet ook onder geen omstandighede hul eie drankies skink nie,” het Schoeman gesê.
’n Gasheer of gasvrou moet altyd ’n lekker storie gereed hê.
“As jou gaste aanhoudend kerm en kla oor die een en daardie een wat op hul sterfbed is of wat sieklik is, moet ’n gasheer of gasvrou gereed wees om die gesprek te lei met ’n interessante storie.”
Volgens Schoeman is dit aanvaarbaar om ’n bietjie te skinder, maar nie te veel nie.
Vir die gaste: As jy die kos geniet, moet jy steeds so ’n bietjie oor los. “’n Bord moet nooit lyk of dit skoon gelek is nie.”
Dit moet ook nie duidelik wees as jy nié van die kos hou nie. “Gaan sê aan die gasheer of gasvrou jy is versadig of dat jy te veel voor middagete geëet het as jy nie van die kos hou nie.”
Daar moet ook mooi gedink word oor die gastelys.
“Daar moet iemand wees wat kan luister, iemand wat lekker praat en daar moet ’n mooi vrou wees. Sorg altyd dat daar iets mooi is vir die oog.”
Schoeman meen etiket is steeds baie relevant.
“Jongmense moet weet hoe om op tree. Jy kan môre na Buckinghampaleis of die Withuis genooi word, dan moet jy weet wat om te doen.”
Schoeman het verlede week 79 geword, maar sy is steeds so besig en wakker soos altyd.
“Ek is besig om ’n boek te skryf en ek stap nog elke dag op die strand.”