Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Smouse vaar strate in

Deur: Hilda Fourie 2012-08-22 22:09
Chaos het gister in die Pretoriase middestad geheers toe oproerige smouse die strate op horings geneem het.

Soos die smouse van die varsproduktemark in die weste van Pretoria na die munisipale gebou in Vermeulenstraat geloop het om met die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad te gaan praat, het sakeondernemings hul deure toegemaak.

In Marabastad was van vroegoggend geen winkel oop nie.

Polisie- en Tshwane-metropolisielede het rubberkoeëls en water gebruik om die skare uiteen te dryf omdat die optog onwettig was, het kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, gesê.

Gladys Tladi (61), ’n smous, het op die teerstraat geval toe ’n waterstraal haar getref het. Sy is ook met ’n rubberkoeël in die gesig geskiet.

Solomon Pohluba het byna in trane uitgebars nadat die polisie op die massa mense geskiet en water gespuit het.

“Hoekom maak julle ons dood? Vir baie jare het ek nie gewerk nie. Ek het ’n plan gemaak, maar nou maak julle my plan dood. Moet ek eerder gaan steel?” wou hy weet.

Probleme het verlede week begin toe lede van die polisie, die metropolisie en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens Dinsdagaand smouse se stalletjies in Marabastad en Van der Waltstraat afgebreek en op hul goedere beslag gelê het.

Console Tleane, metropolisiewoordvoerder, het gesê die smouse het óf nie permitte gehad om handel te dryf nie óf hulle het op ’n plek handel gedryf wat nie vir smouse toegewys is nie. Die smouse het ook nie saans hul goed opgepak en gestoor nie.

Gisteroggend het minstens 500 smouse by die varsproduktemark byeengekom.

Vincent Matjeng, voorsitter van die Tshwane- informele smouse, het gesê van hulle smous al meer as 20 jaar in Marabastad en Van der Waltstraat. Hy het ’n tamatiestalletjie. Die polisie het op 180 kratte tamaties beslag gelê.

Toe die polisie op hulle begin skiet en die water spuit, het die skare in kleiner groepies verdeel en vullishouers omgekeer, verkeer ontwrig en selfs metropolisielede met klippe bestook.
 

Die polisie skiet met ’n waterkanon op betogende smouse wat gister die strate van die Pretoriase middestad ingevaar het. Foto: Nico van Heerden

«Terug