'n 18jarige slagoffer het vanoggend in camera getuig hoe sy deur die sogenaamde Sondagverkragter verkrag en ontvoer is.
Die meisie van Rustenburg was 16 ten tyde van die voorval en het in die hooggeregshof in Thokoza in die saak van Jaco Steyn getuig.
Steyn staan tereg op 37 aanklagte waaronder moord, verkragting, onsedelike aanranding en ontvoering. Luidens die klagstaat het die beskuldigde 10 slagoffers tussen November 2008 en Oktober 2011 gehad.
Soos met sy ander slagoffers, het hy die meisie in 'n woongebied ontvoer toe sy en haar sussie van die kafee af huis toe geloop het.
"Dit was 'n Sondag, ons het geloop en lekkers eet en hy het verbygery, weer en toe 'n derde keer. Ek het my sussie gesê hierdie ou freak my nou uit. Toe stop hy, pluk my aan die bestuurderskant in die wit bakkie in en ry."
Die beskuldigde het 'n kous gegee waarmee sy haarself moes blinddoek en 'n hoed en bril waarmee sy haarself moes vermom.
Toe sy hom later vra waarom hy haar in plaas van haar sussie ontvoer het, het die Sondagverkragter gesê: "Omdat jy die mooier een is".
Sy het stotterend en by tye hartseer vertel hoe die beskuldigde haar na 'n beboste gebied geneem en geforseerde seksuele dade met haar gepleeg het waarna sy haar mond met "Brutal Fruit uitgespoel het".
Haar pa het in die gehoor gesit, 'n ent van Steyn in die beskuldigdebank en was by tye hartseer.
Steyn het oudergewoonte notas in 'n groen leêr gemaak sonder om op te kyk en sy klein bruin Bybel by hom gehou.
"Ná hy met my klaar was, wou ek my klere aanttrek. Toe ek weer kyk, toe is die bakkie weg. Hy het my net daar gelos. En toe begin ek huil. Later het ek pad toe geloop en 'n oom het by my stilgehou. Hy het gevra wat is fout en ek kon nie antwoord nie. Hy het my huis toe geneem."
Onder adv. Anton Lerm se kruisondervraging hieroor het sy egter effens kleigetrap. Lerm het insinueer dat sy sekere besonderhede, soos die maak van die kar, die drank en van die gebeure nie feitelik onthou nie, maar dat sy dit in die polisieverslag gelees het.
Dennis Burger, Steyn se werkgewer sedert 2008, het ook sý getuienis afgehandel. Hy het Steyn as 'n pligsgetroue werknemer beskryf, maar hy was nie altyd stiptelik nie. Volgend Burger was dit ook Steyn se plig om weekliks die maatskappy se motors te inspekteer. Later sou Burger agterkom dat daar met die opsporingsmeganisme van die silwer Toyota Hilux gepeuter is. By nadere ondersoek is bevind dat die meganisme nie werk as dit ontkoppel word nie en dan aandui dat die motor op een plek stilstaan.
AO. Peet du Toit, ondersoekbeampte, het gister getuig Louise de Waal is verlede jaar in Oktober in 'n silwer Toyota ontvoer.