Magnetiese balletjies wat deesdae onder kinders gewild is as “opvoedkundige” speelgoed het byna ’n peuter se einde beteken.
Emilio Claassen (2) van Centurion moes noodchirurgie kry nadat hy drie van die sogenaamde Buckyballs ingesluk het en dit sy derm geperforeer het.
Sy ma, Syntiche, was gister nog langs sy bed in die Unitas-hospitaal se kindersaal.
Hy is vandeesweek uit die pediatriese waakeenheid ontslaan waar hy 12 dae gelede opgeneem is.
“Ons het die produk vir ons ouer kinders gekoop om drie-dimensionele konstruksies te bou. Ons is baie beskermende ouers en sou nooit kon dink die balletjies kan soveel skade aanrig nie.”
Sy en haar man, Gerrit, vermoed Emilio het die balletjies oor ’n tydperk ingesluk, waarna dit mekaar aangetrek het in die dermkanaal.
Emilio was eers dokter toe vir verkoue en brongitis, maar het op 16 Junie begin braak. Hy het later gekla oor krampe en wou nie eet nie.
Dit het ook gelyk of hy vlak asemhaal en longontsteking is aanvanklik vermoed toe sy pa hom daardie Sondag na die ongevalle-afdeling geneem het.
Die dokters en verpleegsters het dadelik ’n pediater, dr. Humphrey Lewis, laat kom.
Die drie balletjies was blykbaar vas aan mekaar in die onderste deel van Emilio se dikderm. Dit het vyf gate gemaak en sy buik was al septies.
Dr. Ernst Muller, hoof van pediatriese chirurgie aan die Universiteit van Pretoria, het die balletjies die volgende oggend 02:30 verwyder.
Emilio se magie is van bo tot onder oopgesny om die derminhoud wat uitgelek het uit te was en al die gaatjies toe te maak.
Volgens Lewis waarsku dokters oorsee al sedert 2007 oor die gevare van magnete vir kinders.
Gewoonlik word objekte in die dermkanaal toegelaat om normaalweg uitgeskei te word, maar dit kan nie met magnete gedoen word nie.
Die magnete knyp dikwels dermweefsel vas. Dit veroorsaak nekrose en gate.
“Die skade is soos dié van ’n skietwond. Die inhoud van die derms lek uit en dit bevat suur, bakterieë en toksiene. ’n Mens kan sterf weens septisemie.”
Volgens Claassen het Buckyballs ’n waarskuwing op die verpakking dat dit nie bedoel is vir kinders jonger as drie nie. Tieners gebruik die balletjies glo as “vals tongringe” en speel daarmee in die mond.

Die drie magneetballetjies in Emilio se ingewande.
Bucky-feiteMagneetballetjies soos dié wat Emilio ingesluk het, is in die VSA aan die mark onttrek. Speelgoedmagnete of items met magnete wat kan los kom, mag nie daar aan kinders jonger as 14 verkoop word nie;
Buckyballs kos R300 tot R350;
Tipiese simptome is buikpyn, naarheid, braking en diarree en begin gewoonlik sowat een tot sewe dae nadat die magnete gesluk is; en
’n 14-jarige meisie van Mpumalanga het in Mei ’n deel van haar dunderm verloor nadat sy Buckyballs ingesluk het, het die Middelburg Observer berig.
- Addisionele bron: Journal of Pediatric Surgery
Die drie magneetballetjies (Buckyballs) nadat hulle uit Emilio se derm gehaal is.Foto: Gerrit Claassen