’n Gewese
groepsersantmajoor van die weermag se groep 17 in Vereeniging is gisteroggend
op sy 70ste verjaarsdag dood in ’n motorbotsing op die Barrage-pad in
Vanderbijlpark.
John
Mileham was alleen in sy wit Renault Scenic toe die ongeluk gebeur het.
Mileham se
vrou, Bets (70), het aan Beeld gesê hy het gaan melk koop.
“Dit is
vandag sy verjaarsdag,” het sy een dogter, Charmaine de Villiers, gesê. “Ons
het sy partytjie vir die naweek gereël en hy het kos gaan koop vir middagete.”
Paramedici
het Mileham eers op die ongelukstoneel behandel. Hy het op pad na die hospitaal
aan sy wonde beswyk.
De Villiers
het die kruideniersware uit die wrak gehaal en in trane uitgebars toe mense op
die toneel vir haar pa gebid het.
’n Nissan
Hardbody-bakkie en ’n Ford-bakkie was ook by die ongeluk betrokke. Die Hardbody
en die Scenic was inmekaar gefrommel.
Die
bestuurder van die Hardbody is beseer en op die toneel deur paramedici
behandel.
Jan Snyman
(82), wat die Ford-bakkie bestuur het, is nie beseer nie.
Die pad is
vir verkeer gesluit en motors en vragmotors moes in die veld draai om verby die
ongeluk te kom.
“Hy was ’n
streng man en hy het ’n baie goeie hart gehad,” het De Villiers gesê. “As
iemand in die moeilikheid was, was hy die eerste om te help. Hy was baie lief
vir sy familie en ook lief vir diere.”
Oor haar ma
het sy gesê: “Haar anker is in God. Die Heilige Gees gee haar die krag om sterk
te wees. Sy is baie lief vir die Here.”
Mileham
laat sy vrou, vier kinders en elf kleinkinders agter.