"Ons bring die AU-stoel huis toe!”
Met dié slagspreuk het die Pan-Afrika-sakeforum (PABF), een van die sterkste werwingsgroepe in die stryd om die voorsitterskap van die Afrika-Unie (AU) se sekretariaat, gister sy steun aan Suid-Afrika se Nkosazana Dlamini-Zuma se “geskiedkundige aanspraak” toegesê.
Dit is deel van ’n intense persoonlike en geopolitieke magstryd wat tans by die AU se hoofkantoor in Addis Abeba woed.
Jean Ping, huidige ampsdraer van Gaboen, kom weer te staan teen Dlamini-Zuma.
Die vorige verkiesing in Januarie moes opgeskort word toe nie een van dié twee ’n volstrekte meerderheid kon kry nie.
Dlamini-Zuma, Suid-Afrika se minister van binnelandse sake en voormalige vrou van pres. Jacob Zuma, en Maite Nkoana-Mashabane, minister van buitelandse betrekkinge, is reeds sedert Donderdag vir dié doel in die Ethiopiese hoofstad.
Zuma self vertrek vandag, vroeër as wat verwag is, na Addis Abeba om sy voormalige vrou te ondersteun.
In ’n verklaring het die presidensie bevestig dat Dlamini-Zuma die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se aangewese kandidaat bly.
Ping het Suid-Afrika vroeër vandeesweek daarvan beskuldig dat hy ’n “veldtog van waninligting” voer deur inligting te versprei dat hy hom aan die wedloop onttrek het.
Hy het dit woedend ontken in ’n verklaring wat hy in Frans, Arabies en Engels aan alle hoofstroommedia in Afrika gestuur het.
“Dis dieselfde regering van Suid-Afrika wat Ecowas (Ekonomiese Gemeenskapsmark van Wes-Afrika-state) se pogings om betyds in die Ivoorkus-krisis in te gryp, belemmer én gestem het om bomaanvalle teen Libië te magtig,” het Ping in die verklaring gesê.
Die PABF het Ping gister veroordeel vir sy “ongelukkige en sterk bewoorde uitsprake”.
Waarnemers is dit egter eens dat die stryd tussen Dlamini-Zuma en Ping om veel meer as net die twee persoonlikhede gaan.
Die uiteinde van die verkiesing, wat Sondag en Maandag tydens die AU-leiersberaad gehou word, hou belangrike gevolge in vir Suid-Afrika – die voorste stigterslid van die AU – se bande in Afrika.
Dis hoofsaaklik ’n stryd om invloed tussen Ecowas met Nigerië aan die voorpunt en Suid-Afrika as die leier in die SAOG-gebied.
Aanduidings is dat Ping ook sterk steun in Noord-Afrika, Ethiopië self, Uganda en Kenia geniet.
Dieselfde geld Tanzanië en moontlik Zambië, albei lede van die SAOG, wat ook hul steun aan Ping kan toesê.
Ping het Dlamini-Zuma in Januarie in al drie verkiesingsrondes met ’n kortkop geklop.