Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Video: Sy droom is om voltyds te boer

Deur: Louise Ferreira 2012-12-18 23:46
Dis waar sy liefde is en waarin al sy vrye tyd gaan.

Die verskillende groentesoorte in Matthew Mudau (40) se agtertuintjie groei welig en die geelperskeboom dra swaar aan vrugte.

Mudau werk by ’n rekenaaronderneming en woon in Roseacres in die suide van Johannesburg. In sy agtertuin kweek hy tamaties, geelwortels, twee verskillende soorte spinasie, uie, boerpampoene, witmielies, kool, groenrissies en brandrissies, suikerriet, granadillas en druiwe. Afgesien van die perskes is daar ook ’n suurlemoen- en ’n nartjieboom, hoewel dié nog nie vrugte dra nie.

Die tuin stel Mudau en sy gesin in staat om vir hulself te sorg en dien eintlik as gemeenskapsprojek, want baie van die groente en vrugte word geskenk aan mense wat minder bevoorreg is as hulle.
“Wanneer die tamaties eers ryp word, kan ’n mens nie alles opeet nie!” sê hy.

Sy éintlike droom, erken Mudau, is om voltyds te gaan boer, maar geld is daar nie.

“Ek was nog altyd lief vir tuinmaak, sedert ek klein was. My oorlede ma het my alles daarvan geleer en sy’s die een wat my geïnspireer het.”

Mudau se gesig verhelder as hy begin verduidelik wanneer hy party gewasse begin plant het en hoe hulle groei.

“Dit gaan alles oor liefde,” sê hy.

In die middel van die groentetuin is ’n kolletjie gras. As hy kon, sou hy daar ook geplant het, maar die kinders het plek nodig om te speel, sê hy.

Sy twee jong dogters, Esihle (8) en Owethu (4), help graag in die tuin. Dis hul werk om die plante nat te lei.

Die tuin help hulle om geld te bespaar, na hulself om te sien en gesond te bly, sê Mudau, en soortgelyke projekte kan dieselfde vir die gemeenskap doen.

“As almal hul eie tuintjie kon hê, sou niemand honger ly nie. Mense sal vir hulself kan sorg.

“Die hoofrede waarom mense nié ’n groentetuin het nie, is te min spasie. Maar jy kan goed plant in kratte, ou bande, leë dromme, enigiets.

“Ek bid net dat ek iewers ’n stukkie grond kan kry waarop ek kan boer.”

Sy raad aan voornemende tuinmakers? Begin met die basiese groente – tamaties, wortels, uie, spinasie – en gebruik kompos eerder as kunsmis.

“Die kompos is ’n bietjie duur, maar as jy wil hê jou groente moet groei, moet jy nie huiwer om die geld daarop uit te gee nie.”

Gebruik kompos in groentetuin
Paul Fox van die Monkey Fountain-kwekery in Linden het die volgende raad aan diegene wat hul eie groentetuine wil begin:
Gebruik kompos.

“Mense sit nooit genoeg kompos in nie,” sê Fox. “Tot op ’n diepte van 38?cm moet jy ’n mengsel van een derde kompos en twee derdes grond hê.

Plant betyds: Groente soos broccoli en kool moet in die winter geplant word, terwyl dit nou tyd is vir somergroente soos tamaties. Groente soos pampoen moet vroeg in die seisoen geplant word, voor die ergste reën, anders kan dit maklik witroes kry.

Plant rég: “Wanneer jy die plantjie uit sy plastiekbakkie haal, moet die blokkie swart plantgrond saamkom. Moenie eers 1?mm van jou tuingrond bo-op daardie swartgrond sit nie, want dan kan die plant by die steel vrot.”

Gee genoeg water vroeg in die oggend. Aan die begin moet jy die plante elke dag natlei, maar namate die wortelstelsel ontwikkel, kan jy afskaal na een keer per week, sê Fox.

“Jy moet altyd in die oggend natlei sodat die grond teen die aand droog is, anders bly dit oornag klam en dan kan jy sukkel met roes.”

«Terug