Dit is gans te moeilik vir entrepreneurs om sakeondernemings in Suid-Afrika te begin.
Veral vroue kry die wind van voor, het Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, gister op Vrouedag in Katlehong, aan die Oos-Rand, gesê.
“Soos ons almal weet, is dit nie maklik vir entrepreneurs in Suid-Afrika om suksesvol te wees nie.”
Die Wêreldbank dui Suid-Afrika as 44ste ter wêreld aan vir “gemak om ’n sakeonderneming te begin”, het sy gesê.
Dit is ver agter ander ontwikkelende lande soos Mauritius, wat 15de is, Egipte (21ste) en Chili (27ste).
“Dit verg gewoonlik 19 dae en vyf prosedures om ’n sakeonderneming in Suid-Afrika te begin. In Nieu-Seeland verg dit net een dag en een prosedure.”
Sy het vroue in Katlehong geprys wat sakeondernemings begin het ondanks struikelblokke en historiese agterstande.
“Dié vroue het waagmoed. Hulle het hul eie sakeondernemings begin, al is daar min geleenthede.
“Ek hoop baie ander vroue sal in hul voetspore volg.”
Nontombi Mbebe (52), ’n enkelma van Katlehong met wie Beeld gepraat het, het in 2010 begin om potte van papiermaché te maak en te verkoop.
Sy versier die potte met bloekomsade, koffiebone en kraletjies en verkoop dit teen sowat R150 elk in die gemeenskap.
Sewe ander vroue werk vir haar. “Dit duur sowat ’n week om een pot te maak. Met dié geld en die inkomste wat ek kry deur klere te maak, sorg ek vir my twee tienerseuns.”
Mmusi Maimane, nasionale DA-woordvoerder, het gesê dit is noodsaaklik dat jong meisies in Suid-Afrika betyds met skoolopleiding begin en behoorlike onderrig kry.
“Ons moet dit vir vroue moontlik maak om entrepreneurs te wees en hul eie sakeondernemings te bedryf.
Hy het gesê Suid-Afrika se ekonomie moet eerder daarop fokus om geleenthede vir jong mense te skep as om toelaes uit te deel.
“Vroue moet die vryheid hê om ’n goeie werk te kan doen, toegang tot behoorlike gesondheidsorg te hê en die geleentheid kry om hul drome te verwesenlik.”