Beeld

Thuli sê oor Zille-kantoor

Deur: Jeanne-Marié Versluis 2012-06-01 21:52
Onbekwaamheid het veroorsaak dat die departement van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, hom in vier gevalle aan wanadministrasie skuldig gemaak het in die aanskaffing van kommunikasiedienste.

Só het adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), gister in Pretoria gesê toe sy die verslag oor haar kantoor se ondersoek na dié tender vir ’n handelsmerkstrategie bekend gestel het. Die tender is in 2010 aan TBWA Hunt Lascaris toegeken.

Madonsela het gesê sy het geen onregmatige optrede deur die departement gevind nie.

Sy het wel vier bevindings oor wanadministrasie gemaak.

Zille het gister in haar reaksie gesê: “Die hele ding was ’n storm in ’n glas water wat deur ons politieke opponente aangewakker is.”

Madonsela het gesê sy krabbel nie met dié finale verslag terug nadat haar voorlopige verslag onlangs uitgelek het nie.

Vir die finale verslag het sy “progressief gedink”.

Madonsela het steeds bevind dit was onbehoorlik dat Ryan Coetzee en Gavin Davis, Zille se spesiale adviseurs, in die bod-evalueringskomitee (BEK) gedien het wat op TBWA besluit het. Dít was egter nie onregmatig nie, het sy bygevoeg.

Daar is “geen nuwe nadelige bevindings” in die nuwe verslag nie, het sy gesê.

Haar bevindings oor wanadministrasie is:

  • Die departement het nie behoorlike aanvraagbestuur toegepas vir die aanskaffingsproses nie.
  • Dít het vrugtelose en verkwiste uitgawes van R8 696 (aan advertensiegeld) veroorsaak.
  • Die BEK-verrigtinge is nie op skrif gestel nie.
  • Die destydse waarnemende adjunk-direkteur-generaal van Zille se kantoor, Anton Groenewald, se aanstelling van die twee adviseurs in die BEK was onbehoorlik.

Madonsela het gesê dié aanstellings het agterdog en indrukke van politieke betrokkenheid en invloed in die aanskaffingsproses gewek wat vermy moes gewees het.

Dié optrede was egter nie opsetlik of grof nalatig nie.

Madonsela het gesê TBWA sou die kontrak in elk geval gekry het.

Dit is nie waar dat die tender nie geadverteer is nie. Die tender, vir die ontwikkeling van ’n handelsmerkstrategie vir die Wes-Kaapse regering, is drie keer geadverteer.

Daar is nie bewyse dat die tender R1 miljard werd is nie.

Die kontrak behels ’n totale vasgestelde betaling van sowat R1,52 miljoen.

Madonsela het gesê daar is geen bewys dat Zille aan die aanskaffingsproses deelgeneem het nie. Sy het nie ’n invloed op die tendertoekenning gehad nie.

Zille het in ’n verklaring gesê die Wes-Kaapse regering stem nie saam dat die R8 696 wat vir die heradvertering betaal is vrugteloos was nie.

Dít is relatief tot die koste om nie te heradverteer nie en die proses sodoende moontlik verder te benadeel.

‘Nie óns nie’

Die voorlopige verslag het nié by die openbare beskermer (OB) se kantoor uitgelek nie.

So het adv. Thuli Madonsela, die OB, gister op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê.

Volgens haar het dit uitgelek nadat haar kantoor dit op 16 April vir insette aan die belanghebbendes in die ondersoek gestuur het. Die volgende mense se klagte het tot die OB-ondersoek gelei: S. Stellenboom, ’n private individu;

Tony Ehrenreich, Wes-Kaapse Cosatu-sekretaris; Songezo Mjongile, Wes-Kaapse ANC-sekretaris; en die senior kantoor- en navorsingskoördineerder van Ndifuna Ukwazi (’n burgerlike organisasie).

Cosatu het gister gesê hy sal “op die grondslag van dié skuldigbevinding aan wanadministrasie en die verkwiste uitgawe” ’n beroep op die OB doen om dit te oorweeg “of ’n R70 miljoen-advertensiebegroting die regte plek is om geld te bestee” terwyl die armes op die Kaapse Vlakte van baie ontneem word.

Doen dié stappe


Só moet dinge binne 90 dae reggestel word

Adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, het gister dié stappe voorgeskryf vir die departement van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille:

  • Die departement se direkteur-generaal (DG) moet dringend toesien dat spesiale adviseurs nié dien in bodkomitees nie;
  • Die vaardighede en kapasiteit van die departement se voorsieningslynbestuursafdeling moet dringend verbeter word;
  • Die rekordhouding van dié afdeling moet dringend verbeter word;
  • Personeel van die voorsieningslynbestuursafdeling en die bodkomiteelede moet dringend opleiding kry in die voorskrifte van die nasionale en Wes-Kaapse tesourie;
  • Die DG van die nasionale tesourie moet dringend toesien dat die wetlike status van omsendbriewe, praktyknotas en ander opdragte duidelik vasgestel en gedefinieer word wanneer dit uitgereik word;
  • Die minister van finansies word versoek om die tesourie-regulasies te wysig om die samestelling van bodkomitees te reguleer. Só moet enige onsekerheid oor die regmatigheid van komiteelede se aanstelling uit die weg geruim word.

 
«Terug