Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, is Solidariteit se swakste hoof van die jaar.
Dié vakbond gee jaarliks toekennings aan die swakste hoof van die jaar, swakste werkgewer van die jaar, werkers van die jaar en werkgewersaansporing vir goeie prestasie. Dié toekennings dui aan hoe maatskappye teenoor hul werkers optree.
Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, het gesê Joemat-Pettersson kry dié toekenning omdat sy:
sowat R1,6 miljoen die afgelope twee jaar aan hotelkoste bestee het;
onlangs in die bresse getree het vir ’n groot groep plaaswerker-stakers in die Boland; en
die vervolging van individue veroordeel het wat verantwoordelik was vir skade van sowat R120 miljoen tydens die staking in die Boland.
Die departement van korrektiewe dienste (DKD) is as die swakste werkgewer van die jaar aangewys nadat Solidariteit vroeër vanjaar hofstukke namens vyf van sy lede, DKD-beamptes, by die arbeidshof in Kaapstad ingedien het weens die DKD se “omstrede regstellende aksie-plan”, het Kruger gesê.
“Volgens die DKD se regstellende aksie-plan moet die nasionale rassedemografie in elke werkplek, selfs op provinsiale en streekvlak, weerspieël word.
Gevolglik het wit en veral bruin werkers in die Wes-Kaap byna geen kans op bevordering en aanstellings nie.”
“Solidariteit voer aan die DKD se blatante beleid van absolute verteenwoordiging is onbillik, irrasioneel en onwettig.”
Die werkers van die jaar-toekenning is gegee aan die werkers in die mynbedryf wat nie onwettig gestaak het nie.
Volgens Kruger het dié werkers getrou bly werk ondanks dreigemente en intimidasie van hul stakende kollegas tydens die grootskaalse onrus in die mynbedryf.
“Dit is danksy dié werkers wat verantwoordelik en getrou aanhou werk het, dat die veiligheidstandaarde by talle myne in ’n groot mate onderhou kon word sodat werksaamhede ná die stakings veilig hervat kon word,” het Kruger gesê.
Die werkgeweraansporingsprys vir goeie prestasie is gegee aan die mynhuis Anglo Gold Ashanti omdat hy bekend is as ’n “deursigtige en konsulterende werkgewer”.
Nóg toekenningsLangvingers-toekenning: Die departement van gesondheid het dié toekenning gekry omdat hy onder grootskaalse korrupsie deurloop en nie diensverskaffers vir noodsaaklike dienste en instandhoudingswerk vergoed nie;
Skiet-jouself-in-die-voet-toekenning: Dié toekenning is aan die polisie gegee omdat hulle weens regstellende aksie sowat 70 poste vakant gelos het; en
Kom-en-gaan-toekenning: Telkom het dié toekenning ontvang nadat vyf uitvoerende hoofde vanjaar al bedank het. Die vyfde was Pinky Moholi, wat in November bedank het.