Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Tot 150 buffels met TB van kant gemaak

Deur: Elise Tempelhoff 2012-07-03 02:12
Die Krugerwildtuin se veeartse gaan vandag tussen 125 en 150 buffels van kant maak as deel van die finale navorsingsprojek oor beestuberkulose.

Dié siekte is hoogs aansteeklik en groot bevolkings buffels in die wildtuin is reeds daarmee besmet.

Die wildtuin se skakelafdeling het gister in ’n verklaring gesê die navorsingsprojek het vier jaar gelede begin.

200 buffels is in dié tyd van radio-halsbande voorsien sodat hulle gemonitor kon word. Hulle is sedertdien elke ses maande gevang en bloedmonsters is getrek.

Daar is ook noukeurig boekgehou van hul toestand.

Tussen 125 en 150 van die buffels wat deel is van die projek, sal vandag van kant gemaak word sodat hul oorskot ontleed kan word.

Die uitheemse siekte het in die 1950’s vastrapplek gekry toe buffels by die wildtuin se grens in kontak gekom het met beeste wat daarmee besmet was.

Dié siekte hou ’n groot bedreiging vir die wildtuin se biodiversiteit in.

Die eerste buffel is in 1990 in die wildtuin aan die siekte dood.

Die siekte het in die suide van die wildtuin begin en ses jaar gelede is vier besmette buffels aan die noordelike grens opgemerk.

Dit is ook intussen in 12 ander dierspesies, waaronder leeus, jagluiperds, luiperds, hiënas, koedoes, rooibokke, vlakvarke, bobbejare en ratels, opgemerk.

Die projek sal tot middel Augustus duur.
«Terug