Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

Video: Aandag oorweldig Chad, is tog lekker

Deur: Lourensa Eckard 2012-08-22 22:09
“Chad is nog te jonk om aan trou te dink. Hy moet nou eers al die aandag geniet wat hy by die meisies ontvang.”

So het Bert le Clos, Chad se pa, in sy diep en hees stem oor sy seun se gewildheid onder die meisies gesê.

“Ek is ’n groot voorstander van vriende met voordele,” het Chad se pa gesê.

Chad het duidelik skaam geword toe sy pa dit sê, maar sy pa het hom probeer gerusstel.

“Jy is dan so ’n pragtige seun,” het Bert aan Chad gesê.

Bert het bekendheid verwerf tydens ’n onderhoud met die BBC nadat Chad ’n goue medalje in die 200 m-vlinderslag gewen het. “Wat ’n pragtige seun! Ek is lief vir hom! Ek was nog nooit in my lewe so bly nie!” het Bert uitbundig in die onderhoud gesê.

Chad meen hy is nie heeltemal so emosioneel soos sy pa nie, maar soms pik hy ’n traan of wat weg.

“Ek huil nie so maklik soos my pa nie, maar soos wat ek ouer word, begin ek ál meer soos hy word,” het Chad geskerts.

Bert het gesê hy gaan nie om verskoning vra vir sy emosies nie. “Ek is wie ek is. Ek wys emosie en ek huil as ek gelukkig en hartseer is. Ek is soos ’n dier in daardie opsig. Mans moet kan huil,” het hy gesê.

Volgens Chad het sy lewe onherroeplik verander vandat hy van Londen met ’n goue en ’n silwer- Olimpiese medalje teruggekeer het.

“Die aandag is nogal oorweldigend, maar dit is ook vir my lekker,” het Chad gesê.

Die R600 000 wat hy van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) vir sy twee medaljes ontvang het, gaan moontlik aan ’n nuwe huis bestee word.


 
«Terug