Op die vooraand van haar 105de verjaardag het sy vir die eerste keer sneeu in Suid-Afrika gesien.
Jannige Kruidenier, ’n inwoner van die Masonic Haven-aftreeoord in Die Wilgers, Pretoria, meen egter dit is niks in vergelyking met die sneeu in haar vaderland, Nederland, nie.
“Ek het nog nooit in Suid-Afrika sneeu gesien nie, maar wel baie in my tuisdorp, Kleine (naby Utrecht) in Nederland.”
Kruidenier skryf haar ouderdom toe aan “net genade”.
“Voor jy weet, word jy oud.”
Sy geniet dit om saans ’n glasie sjerrie te drink en in die winter graag ’n grokkie, ’n drankie van brandewyn, suurlemoensap, suiker en warm water.
Oumatjie, soos sy bekend staan, het in 1967 saam met haar man, Jacob, en twee kinders na Suid-Afrika verhuis.
“Dit was baie moeilik om hierheen te kom, want ek kon nie ’n woord Engels praat nie.
“Afrikaans is maklik, want dis amper Nederlands.”
Behalwe dat sy twee wêreldoorloë moes deurmaak, oorleef sy ook haar man, dogter, broer en vyf susters.
Jacob is in 1976 oorlede en sy het nie weer getrou nie. “Ek hoef nie meer nie,” was haar antwoord oor hoekom nie.
Haar suster, wat nog in Nederland woon, is 102 jaar oud en haar seun is 81.
Kruidenier was haar lewe lank ’n tuisteskepper en tot November verlede jaar het sy nog alles self gedoen. Sy is van jongs af lief vir tuinmaak.
Die aftreeoord moes vir haar ’n tuintjie aanlê. Sy bewerk dié nog self.
“As ons weer sien, het sy haar handskoene aangetrek en werk sy buite in die tuin,” het Trudie Smithard, verpleegdiensbestuurder van die aftreeoord, gesê.
Kruidenier is die oudste inwoner tot nog toe in die aftreeoord.
Daar is ook twee 101-jarige inwoners.