Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

VIDEO: Zuma speel pendelaar in spitstyd

Deur: Seugnet Esterhuyse 2012-06-14 22:49
’n Mens kán sonder ’n bloulig-konvooi van Pretoria tot in Soweto kom, het pres. Jacob Zuma gister gewys.

Hy en sy gevolg van lyfwagte, polisielede en Gautrein-veiligheidswagte, asook ander hooggeplaastes, het in die oggendspitstyd met ’n Metrorail-trein van die Pretoria-stasie tot by Rhodesfield in Kempton Park gery, vandaar met die Gautrein tot by Parkstasie in Johannesburg en toe met Rea Vaya-busse tot in Dlamini, Soweto.

Polisie- en weermaghelikopters het wel deurentyd in die lug bo die president gehang terwyl hy sy lyf pendelaar gehou het.

Zuma het self in die tou gestaan om sy treinkaartjie te koop. By die Sandton-stasie moes die president saam met sy gevolg uit die Gautrein klim en na die boonste platform gaan waar hulle van treine verander om na Parkstasie te ry.

Pendelaars het om hom saamgedrom, foto’s geneem met hul selfone en luidkeels “Zuuuma” gesing.

Op die stampvol trein het Zuma tussen treinwaens rondbeweeg en hoflik met pendelaars kennis gemaak.

Die meeste van die pendelaars op die Metrorail-trein het gesê hulle is moeg vir treine wat altyd laat en oorvol is.

“Dié treine is altyd laat. My werk het my al ’n waarskuwingsbrief gegee omdat ek altyd laat is,” het Fhulufhelo Ramukhithi (27) gesê.

Zuma het aandagtig na hulle geluister, net sy kop geskud en geselsies aangekoop met van die mense.

Zuma is onder meer vergesel van Nomvula Mokonyane, Gautengse premier; Pravin Gordhan, minister van finansies; Ben Martins, nuwe minister van vervoer; Ismail Vadi, Gautengse LUR vir vervoer; Collins Chabane, minister in die presidensie verantwoordelik vir prestasiemonitering en -evaluering; en Jack van der Merwe, uitvoerende hoof van die Gautrein-bestuursagentskap.

“Dit is ’n voorreg om op die Gautrein te ry,” het hy gesê.

Hy kon egter nie dieselfde van Metrorail sê nie.

“Hmmmm, Metrorail, dis moeilik,” was sy kommentaar.

Vadi het gesê die treinstelsel sal binne die volgende drie tot vier jaar opgegradeer word en nuwe standaarde vir openbare vervoer sal ingestel word, waaronder dat dit betroubaar, bekostigbaar, veilig en toeganklik sal wees.


Pendelaars op die Metrorail-trein leun gister by treindeure en -vensters uit om pres. Jacob Zuma te kan sien. Foto: Franco Megannon
 
«Terug