Beeld WEBWERWE/DIENSTE >

VIDEO: ’n Polisie met visie

Deur: Hilda Fourie 2012-06-14 22:49
’n Mens hoef nie ’n dronkaard te wees om ’n drankwinkel te besit nie.

Net so hoef sy nie ’n polisielid te wees om ’n goeie polisiehoof te wees nie, het genl. Riah Phiyega gister gesê.

Phiyega (54) is die derde opeenvolgende polisiehoof wat nie ’n beroepspolisielid is nie.

Tog het sy gister gesê sy het die raad van Bheki Cele, haar afgedankte voorganger, ter harte geneem om na die “voetsoldate” te kyk.

Phiyega het op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê een van haar prioriteite is die polisie se beeld.

“Suid-Afrikaners moet ’n polisiediens hê wat hulle kan vertrou, wat toegewyd is en wat werketiek het,” het Phiyega gesê.

“As mense ons (polisie) sien, moet hulle vir ons waai en ‘halala’ sê.

“Ek hoop die beeld van die polisie sal so wees dat wanneer mense die mans en vroue in blou sien, hulle ’n drukkie vir hulle wil gee. Of ’n glas water. Net omdat hulle weet hulle kan hul lewens in dié polisielede se hande toevertrou.

“Ek glo in integriteit, diens aan die gemeenskap en dat dit met uitnemendheid gedoen moet word.”

Phiyega het die media vir die eerste keer toegespreek 48 uur nadat sy deur pres. Jacob Zuma as nasionale polisiehoof aangewys is. Sy het prontuit gesê sy is nie ’n polisielid nie, maar dat sy nie kan wag om die blou uniform aan te trek om deel van dié familie te wees nie.

“Ek is ’n maatskaplike werker en ’n sakevrou,” het Phiyega gesê.

“In my loopbaan sover het ek bestuur, gelei en strategieë uitgewerk. Ek is hier om te luister, te leer en te konsulteer. Ek is gewillig om ’n diens te lewer.

“Gee my ’n kans. Oordeel my op die resultate.”

Phiyega het gesê daar is verskeie “oorkombare” uitdagings in die polisie, soos onder meer korrupsie.

Tog het sy gesê daar moenie gedink word dat die polisie in ’n krisis gedompel is nie.

Volgens Phiyega is korrupsie “’n siekte wat ernstige penisillien nodig het”.

Dit is nie ’n probleem wat slegs in die polisie bestaan nie, maar landwyd in verskeie departemente. En oral is daar ’n behoefte om dit te beveg.

Sy het gesê sy kan nie kommentaar lewer oor haar strategieë vir misdaadbekamping en om korrupsie te beveg voordat sy vanoggend met die polisie se topbestuur vergader het nie.



 
«Terug