Johannesburg. - Die Johannesburg metropolisie department (JMPD) het motoriste na aanleiding van Dinsdag se sneeuval gewaarsku om hulle ligte aan te skakel en versigtig te bestuur.
“Ons het nog nie enige ernstige ongelukke gehad nie, maar daar was reeds ‘n hele paar kleiner ongelukke vandag,” het JMPD-woordvoerder Wayne Minnaar omstreeks 15:00 gesê.
“Motoriste moet onthou dat die sneeu die paaie glyerig kan maak, so dit is belangrik om stadig te ry en hulle volle aandag op die pad te vestig.”
Neil Rooi, woordvoerder vir die Johannesburg noodddienste, het beaam dat daar baie kleiner ongelukke plaasgevind het, maar gesê dat dit nog nie vir die nooddienste nodig was om enige reddingsoperasies te loods nie.
Vanessa Jackson, ER-24 woordvoerder het bygevoeg dat sy slegs van een ernstige ongeluk, op die hoeke van Pretoria en Chadwick strate in Wynberg, gehoor het.
Volgens Jackson is vyf mense beseer toe ‘n Ford Fiesta by die betrokke kruising teen die agterkant van ‘n Mahindra afleweringsvoertuig gebots het.
Drie insittendes in die Fiesta het verskeie ernstige beserings opgedoen, maar was in ‘n stabiele toestand per ambulans na die hospital vervoer. Twee insittendes van die Mahindra het ook geringe beserings opgedoen.
“Dit is moontlik dat die glyerige paaie as gevolg van die onlangse snaakse weer in Johannesburg dalk ‘n rol in hierdie ongeluk kon gespeel het – die paramedici wat na die toneel toe uitgeroep is het ook opgemerk dat die paaie in hierdie omgewing ontsettend glyerig voel,” het Jackson gesê.
'n Sneeukombers het Dinsdag van die berge in KwaZulu-Natal, die Wes- en die Oos-Kaap bedek, maar sneeuneerslae in Gauteng, die Vaaldriehoek en die KwaZulu-Natalse Middelande het ook talle mense aan die gons - en die bibber.
Sneeu het daartoe gelei dat Van Reenenspas in die Drakensberg vir verkeer gesluit is. Die N3 tussen Harrismith en die Tugela Tolplaza is egter omstreeks 12:00 weer vir verkeer oopgestel.
'n Woordvoerder van die N3-tolkonsessie het motoriste aangeraai om baie versigting te bestuur.
Vroeër is 'n aantal motoriste weens die sneeu in die pas vasgekeer.
Die woordvoerder het gesê daar is sneeuneerslae van Harrismith af tot in Hilton buite Pietermaritzburg.
Ligte sneeuneerslae het onder meer in Randburg en aan die Oos-Rand voorgekom, met vroegoggend-temperature wat tot onder vriespunt gedaal het.
Ligte sneeu het na wat berig word ook omstreeks 12:30 in Pretoria-Wes begin val.
In die Vaal-gebied was daar sedert 07:30 swaarder neerslae wat onder meer die Sunshine Big Easy-golftoernooi in die wiele gery het.
"Dit het teen 7:30 by die Makouvlei-gholfklub by Vereeniging begin sneeu. Dit het al hoe erger geword en die toernooi is tydelik uitgestel," het Michael Tylor, toernooi-woordvoerder, gesê.
"Die 67 spelers het hul stokke neergesit en in die sneeu baljaar. Teen 11:30 behoort die bestuur te besluit of ons met die toernooi voortgaan. In dié stadium lyk dit egter onmoontlik."
Volgens die nooddienste ER24 en Netcare is geen ernstige ongelukke tot dusver weens die onverwagte sneeu aangemeld nie.
"Gelukkig is die paaie nie te nat nie en ook nie geys nie, dit is waar die bekommernis gewoonlik lê," het Jeffrey Wicks van Netcare gesê.
Die Suid-Afrikaanse weerdiens het onweer vir die grootste dele van die land voorspel.
"Die enigste dele wat nie direk deur die onweer geaffekteer sal word nie, is Limpopo en die noorde van Noordwes," het Tamaryn Barnes van die weerdiens gesê. Swaar sneeuneerslae is vir die Suid-Vrystaat voorspel.
Swaar reën word voorspel vir die kusgebied tussen Kaap Agulhas en Port Elizabeth, asook die Wildekus en die aangrensende Oos-Kaapse binneland. Swaar neerslae kan ook in die suidelike dele van KwaZulu-Natal voorkom.
Stormsee-toestande, met branders van tot 4 meter hoog, word verwag tussen Lambertsbaai aan die Weskus en Port Alfred in die Oos-Kaap. Dié toestande kan later tot by Oos-Londen voorkom.
In KwaZulu-Natal is rampbestuurspanne op 'n gereedheisgrondslag geplaas ná die Weerdiens se waarskuwing oor moontlike swaar reën.
En in die Oos-Kaap het die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit gesê hy is ook voorbereid op die verwagte swaar neerslae.
'n Aantal laagwaterbrûe sal as voorsorgmaatreël gesluit word en motoriste is aangeraai om baie versigtig te bestuur in die nat toestande.