“Dis die trotsste oomblik van my lewe. By die medaljeseremonie wou ek net begin rondspring. Ek is so bly dat ek dít vir my land kon doen!”
So het Sizwe Ndlovu (31) gister gesê ná die Suid-Afrikaanse roeispan se goue medalje in die liggewig-afdeling op die Olimpiese Spele in Londen.
Ndlovu, ’n Johannesburger, het in Newcastle in KwaZulu-Natal gewoon voordat hy Gauteng toe verhuis het.
“Ek kan onthou dat dit moeilik was in KZN. Ek moes elke dag 16 km heen en weer laerskool toe loop en 25 liter water op ’n kruiwa huis toe stoot,” het die kampioen, wie se ouers albei oorlede is, per telefoon uit Londen gesê.
Vangelia Nicolaou, skoolhoof van die Mondeor High School in die suide van Johannesburg waar Ndlovu skoolgegaan het, het gesê hy was ’n “baie stil, goedgemanierde en nederige skoolseun”. Ndlovu, wat in 1999 gematrikuleer het, was in haar Afrikaanse klas.
Tom Price, wat by sy dood in 2006 langer as 25 jaar skoolhoof van Mondeor was, was Ndlovu se roei-afrigter.
“Hy het begin roei toe hy in gr. 8 na ons toe gekom het,” het Nicolaou vertel.
“Ek dink hy en die vorige skoolhoof was na aan mekaar en dié het ’n groot rol in sy lewe gespeel.”
Wat roei betref, was Ndlovu “baie vasbeslote, gefokus en toegewyd”, het Nicolaou gesê. “Hy sou 05:00 opstaan om te gaan oefen.”
Hy was ook ’n prefek en die ander kinders het baie respek vir hom gehad, het Nicolaou gesê.
“Ek dink dis ongelooflik dat iemand met so ’n nederige agtergrond soveel kon bereik. Selfs nadat Law-hy klaargemaak het met skool, het hy teruggekom en help afrig,” het Nicolaou gesê.